Die rede is omdat hy nie antwoorde kon verskaf of sommige van die wapens wat tydens die vorige amnestietydperk ingedien is, met enige misdade verbind kon word nie.

Komiteelede van die Parlement se portefeuljekomitee vir die polisie het met skok gereageer toe hulle verneem het dat die polisie skynbaar nie sy taak na wens vervul het nie; en dit ná al die trauma wat Suid-Afrika se burgers in 2010 se vuurwapen-amnestietydperk deurgemaak het. Die polisie het ’n voorlegging aan die komitee gedoen oor sy planne om weer volgende jaar ’n amnestietydperk van stapel te stuur.

Gedurende 2005 se amnestietydperk van ses maande is 46 631 wettige vuurwapens vrywillig ingehandig, terwyl 33 823 onwettige vuurwapens ingehandig is. In 2010 se amnestietydperk van drie maande is altesaam 30 442 wettige vuurwapens vrywillig ingehandig, terwyl 11 887 onwettige vuurwapens ingehandig is.

Genl. Jaco Bothma, wat in beheer is van vuurwapens, drank en tweedehandse goedere vir die polisie, het verduidelik dat alle vuurwapens wat ingehandig word, vir ballistiese toetse gestuur word.

Verband tussen wapens en misdaad
Bothma het ook verduidelik dat dit moeilik is om vuurwapens wat in misdade gebruik was, met sekere misdaadvoorvalle te verbind.

Hy het gesê die meeste misdadigers in Suid-Afrika probeer om nie die vuurwapen af te vuur nie. Die vuurwapen kan slegs met ’n misdaad verbind word met behulp van die patroondoppies wat op die misdaadtoneel gevind word. Die reeksnommers van vuurwapens word ook dikwels afgevyl.

Bothma het toegegee die moontlikheid bestaan dat die SAPD gedurende die amnestietydperk wapens ontvang het wat vir die pleeg van misdade gebruik was, maar hulle kan dit nie bewys nie. “Ja, dit is moontlik dat misdade met heelwat van die vuurwapens gepleeg is, maar weens die feit dat ons nie meganismes gereed gehad het nie, kan ons nie verduidelik of die amnestie suksesvol of onsuksesvol was nie.’’ Meganismes sal vir volgende jaar se amnestietydperk ingestel word om dit te bepaal.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gevra of Bothma dus bedoel dat nie een van die vuurwapens wat ingehandig was, aan ’n misdaad gekoppel kon word nie.

Bothma het geantwoord dat “hy nie kan getuig” dat dit die geval is nie. Genl. Nobesuthu Mosiye, Bothma se kollega, het egter tot sy redding gekom en geantwoord dat daar wél dokumentasie beskikbaar is oor hoeveel vuurwapens met misdade verbind kan word.

Die polisie wil hoofsaaklik die amnestie weer instel om onder meer die aantal onwettige vuurwapens wat in Suid-Afrika in omgang is, te verminder, om vuurwapeneienaars die geleentheid te bied om ongewenste vuurwapens in te dien en om misdaad te voorkom.