Die twee is Maandag op heter daad betrap toe hulle na bewering vyf skape op die plaas van mnr. Danie Muller in die distrik Tweeling wou steel. 

Luidens ’n verklaring van Vrystaat Landbou sal die mans op Woensdag 31 Maart weer in die hof verskyn. VL beoog om die hofverrigtinge by te woon om sy steun te toon dat die staat die beskuldigdes se aansoek om borgtog teenstaan aan die hand van inligting en statistieke oor veediefstal. 

Mnr. Deon van der Watt, VL-streekverteenwoordiger by Tweeling, het bevestig dat sowat 65 boere van die omgewing gister voor die hof byeengekom het. Volgens Van der Watt het hulle voor die hofverrigtinge aan die staatsaanklaer te kenne gegee dat hulle die borgtogverrigtinge sal bywoon. 

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL, sê veediefstal en korrupsie in die polisie is ’n wesenlike probleem in die landbou. Buys het bevestig dat VL mnr. Bheki Cele, minister van polisie, reeds in Oktober 2020 versoek het om die betrokkenheid van polisielede by veediefstalsindikate en plaasaanvalle te ondersoek.