Cele het die polisie se begroting in die nasionale raad vir provinsies vir goedkeuring voorgelê.

Hy het gewaarsku dat die polisie onwettige vuurwapens ná die amnestietydperk by mense se huise sal gaan as hulle dit nie indien nie. “Wanneer ons die vuurwapens kom haal, sal ons twee keer klop en die derde keer sal die deur jou wakker maak terwyl jy op jou bed lê en slaap.”

Die amnestietydperk wat ingestel sal word, is sodat diegene wat onwettig vuurwapens besit, dit kan inhandig. Vuurwapens wat nie meer benodig word nie, sal ook dan ingehandig kan word.

Geen misdaad

Die polisie het ná die vorige amnestietydperk wat oor vyf jaar gestrek en in 2010 geëindig het, baie kritiek gekry omdat die wapens nie met misdade verbind kon word nie.

In 2017 het genl. Jaco Bothma, wat in beheer is van vuurwapens, drank en tweedehandse goedere by die polisie, aan die parlement se portefeuljekomitee vir polisie verduidelik dat alle vuurwapens wat ingehandig word, vir ballistiese toetse gestuur word.

Hy het gesê dat dit moeilik is om vuurwapens wat in misdade gebruik was, met sekere misdaadvoorvalle te verbind.

Die rede hiervoor is dat die meeste misdadigers probeer om nie die vuurwapen af te vuur nie. Die vuurwapen kan slegs met ’n misdaad verbind word na aanleiding van die patroondoppies wat op die misdaadtoneel gevind word. Die reeksnommer van die vuurwapens word ook afgevyl.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het vroeër in die begrotingsdebat in die nasionale vergadering dit duidelik gemaak dat sy party die amnestie sal steun mits dit voorsiening maak dat die vuurwapeneienaars wie se lisensies verval het, hul lisensies kan hernu. Hy het aangevoer dat omdat die land gewelddadig is, het dit nodig geword vir landsburgers om vuurwapens te besit om hulself te beskerm. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.