Prof. Tebogo Mokgoro, premier van Noordwes, en ander senior amptenare van die provinsie het die fabriek besoek kort nadat Rapport berig het dit word gesluit weens die Ditsobotla-munisipaliteit se swak dienste rakende water, elektrisiteit en paaie, en dat meer as 330 mense hul werk gaan verloor.

Hulle is na die Clover-bestuur in Roodepoort verwys. Clover het minstens twee jaar gelede al besluit om as deel van die tweede fase van sy Sencillo-projek verskeie produksiegeriewe te konsolideer en mega-aanlegte in Clayville (Gauteng), Queensburgh (KwaZulu-Natal), Bloemfontein (Vrystaat) en Gqerberha (Oos-Kaap) te vestig.

Meer inligting hieroor het aan die lig gekom toe die Mededingingstribunaal in September 2019 bekommerd was oor werkverliese weens die Milco SA-konsortium, gelei deur ’n Israelse maatskappy, se oorname van Clover.

Albei partye het egter aan die tribunaal gesê die sluiting van sekere aanlegte, waaronder die kaasfabriek, is onverwant aan die Milco SA-transaksie en is reeds vooraf besluit. Clover het toe gesê swak munisipale dienslewering was een van die sleutelfaktore in sy keuse van waar hy sy nuwe mega-aanlegte vestig.

Die ander faktore was die aanbod en gehalte van onverwerkte melk, asook vervoerkwessies. Clover en Milco SA het aan die tribunaal onderneem om geen personeel af te lê vir twee jaar nadat die Mededingingstribunaal die oornametransaksie goedgekeur het nie.

OPLAAI VAN MELK

Luidens ’n verklaring deur die Noordwes-regering verwerk Clover daagliks 350 000 liter onverwerkte melk by die fabriek, waarvan sowat 100 000 liter uit Noordwes en 250 000 liter uit KwaZulu-Natal kom.

Mnr. Johan Strydom, een van die groot melkboere in die omgewing wat via Dairy Farmers of South Africa (DFSA) melk aan die fabriek lewer, sê die melk vir die fabriek kom van boere in Noordwes, Gauteng, Mpumalanga en KwaZulu-Natal.

Die melkbedryf het die afgelope paar jaar groot verskuiwings ondergaan, en meer as 80% van Suid-Afrika se onverwerkte melk word nou in kusprovinsies geproduseer. Strydom reken in die drie noordelike provinsies lewer sowat 50 boere melk aan die fabriek.

Volgens mnr. Drikus Lubbe, uitvoerende hoof van DFSA, sal boere in die omgewing se melk in die toekoms na aanlegte in Bloemfontein en Botswana geneem word. Volgens hom is dit moeilik om te sê presies hoeveel boere geraak word. “Melk word van die mees ekonomiese gebiede aangery en word na verskeie depots gebring. Dit is moeilik om dit na individuele boere te verdeel.”

Op ’n vraag of DFSA, as deel van sy leweringskontrak met Clover, ná die sluiting van die fabriek steeds al die boere wat geraak word, se melk sal oplaai, sê Lubbe DFSA kyk daagliks na die mees ekonomiese en doeltreffendste roetes.

Wanneer minder melk opgelaai word, is dit weens boere wat ophou melk lewer, of waar dit nie meer ekonomies is om dit op te laai nie. “Ons sal dus steeds ekonomies doeltreffende boere se melk oplaai.” Strydom sê die kostedoeltreffendheid word bepaal deur hoeveel melk opgelaai kan word en wat die afstand is wat dit vervoer moet word. Skaalekonomie kan aan boere voordele bied.

BELANGRIKSTE REDE

Clover wou nie vrae oor die sluiting en verskuiwing van die fabriek beantwoord nie. Die maatskappy volstaan met sy mediaverklaring waarin hy sê voortgesette swak dienslewering was die belangrikste rede.

“Clover het reeds bedrywighede in Queensburgh, en die eThekwini-munisipaliteit (Durban) was ondersteunend. Die Lichtenburg-fabriek het jare lank water- en kragonderbrekings beleef en die omliggende infrastruktuur is nie deur die munisipaliteit onderhou nie.

“Ondanks verskeie pogings tot gesprekke met die munisipaliteit hieroor is die kwessies nie opgelos nie. Dit het produksie benadeel, wat ’n voortgesette proses vereis. Dit is nie meer vir die onderneming haalbaar om op Lichtenburg bedrywighede te hê nie,” lui die verklaring. 

‘Ons sal dus steeds ekonomies doeltreffende boere se melk oplaai.’