Ekonomiese en ander faktore sal ’n rol speel, maar die besluitneming sal polities wees, het prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-universiteit, op ’n beraad in Pretoria van die ad hoc-groep vir die beskerming van eiendomsreg gesê.

Volgens hom is die potensiaal dat sake in Suid-Afrika verkeerd kan loop, 10 maal groter en gewigtiger as in Zimbabwe. “Die scenario hier is moeiliker as in Zimbabwe.

“Zimbabwe kom hom op ’n manier op ’n laer vlak herskep en amper tradisioneel in ’n omgewing van disfunksionaliteit funksioneer.

“Ons ekonomieë en stelsels is te gesofistikeerd.”

Volgens Duvenhage is Suid-Afrika se veiligste scenario vir ’n verkiesingsuitslag aanstaande jaar, ook vir die grondkwessie, een waar ’n “relatief gematigde ANC” onder pres. Cyril Ramaphosa ’n volstrekte meerderheid behaal.

’n Soort Kodesa moet dan oor grond gehou word en Duvenhage sê dit is belangrik dat die grondkwessie uit die politieke omgewing gehaal word.

“Een manier om dit te doen, is deur onderhandelings, en dit moet van ’n sterk grondslag af gedoen word.

Mense wil nie oor grond onderhandel nie omdat hulle voel dit behoort aan hulle, maar Duvenhage gesê dit is ’n onvermydelike politieke proses.

“Landbou-organisasies en ander in die waardeketting moet betrokke wees, plus ander belangegroepe, asook (pres.) Donald Trump as dit nodig is: Almal is nodig om ’n saak daar te bou.”

Nasionale Demokratiese Revolusie

Soos dr. Anthea Jeffrey van die Instituut van Rasseverhoudinge wat ook op die beraad ’n spreker was, het Duvenhage verwys na die ANC se Nasionale Demokratiese Revolusie (NDR) wat die groter prentjie vir onder meer die grondkwessie is.

Volgens hom is daar sekere landbouleiers “wat die NDR afmaak asof dit ’n mite is”.

Hy sien egter ’n stelselmatige NDR-patroon in gebeure, “nie altyd soos die ANC dit graag wil hê nie, maar gegewe die omstandighede behou hulle die plan en maak dikwels kleiner taktiese skuiwe om belangegroepe tevrede te stel.”

Jeffrey het gesê die ANC het die mislukking van grondhervorming in ’n groot mate ontwerp om die NDR te bevorder.

Die ANC wil volgens haar nie hê dat grondhervorming suksesvol moet wees nie, omdat dit die NDR sal ondergrawe en die party onafhanklike swart boere en ’n onafhanklike middelklas vrees.

Jeffrey het gesê volgens die NDR moes kolonialisme eers beëindig en demokrasie gevestig word, en nou word daar na ’n sosialistiese stelsel beweeg.

Stigmatisering, soos oor die kwessie dat grond gesteel sou wees, en dat boere hul werkers sou mishandel, is deel van voorbereidings vir die uitvoering van die NDR.

“Groepe wat in die visier is, dink hulle kan beter vaar deur agter die skerms te onderhandel en hulpvaardig te wees.

“Hulle aanvaar die voorwaardes van die debat, soos deur die ANC daargestel, wat hulle op die agtervoet plaas.”

Sy het later in antwoord op ’n vraag gesê dit is waarskynlik ’n klein groep in die ANC wat die uitvoering van die NDR aandryf .

Om die NDR te kan bestry, moet ’n mens egter kennis hê daaroor en “die kolletjies kan verbind” om dié groter prentjie te kan raaksien.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.