Verteenwoordigers van Portugal het met Agri SA kontak gemaak om boere na dié land te nooi, terwyl 27 Afrikalande ook boere soek.

Suid-Afrikaanse boere boer tans in meer as 30 Afrikalande, terwyl Agri SA se Afrikakomitee formele uitnodigings van 27 lande ontvang het. Portugal het homself dié week tot dié lys toegevoeg en soek plaaslike boere om die land se mededingendheid te verhoog.

Dr. Theo de Jager, ondervoorsitter van Agri SA, sê die finansiële krisis in Europa laat kleiner lande in dié wêrelddele terugkeer na basiese beginsels, en derhalwe wil Portugal sy mededingendheid deur middel van die landbou verbeter. “Hy kan nie meer staatmaak op subsidies van die staat nie, en nou soek hy ook Suid-Afrikaanse boere om te help om die Portugese landboubedryf te verstewig.”

Ander Europese lande het ook al aangedui dat hulle belang stel in samewerking met Suid-Afrikaanse boere. Mnr. Dirk Hanekom, voorsitter van die Afrikakomitee, sê die ander Europese lande fokus nie soseer daarop dat boere by hulle moet gaan boer nie, maar om namens dié lande in ander Afrikalande te gaan boer.

Nigerië, Gaboen stel ook belang
Volgens Hanekom het hulle dié week met die regerings van Nigerië en Gaboen vergader. Dié lande wil graag plaaslike boere in hul lande verwelkom. Hul kontak volg op die aankondiging van die nuwe minimum loon vroeër vandeesweek.

Ooreenkomste wat Agri SA met Afrikalande aangaan, is gegrond op of bilaterale handelsooreenkomste tussen dié lande en Suid-Afrika bestaan. De Jager sê van al die ooreenkomste wat in dié verband bestaan het, is sowat drie nog oor.

Die ooreenkomste word beëindig weens die land se grondbeleid en beperkinge aangaande internasionale grondbesit en grondhervorming. Mnr. Rob Davies, Minister van Handel en Nywerheid, het aan Agri SA gesê dat die ooreenkomste voortaan op ’n ander grondslag moet berus, en dat hulle ook bereid is om sektorspesifieke ooreenkomste te skep.

Navrae van plaaslike boere om hul belange na ander lande uit te brei, het die afgelope tyd toegeneem, sê Hanekom. Groot belangstelling bestaan spesifiek in Zambië, Mosambiek en die Kongo (Brazzaville).