Die produksieprysindeks (PPI)-syfers vir Julie dui ‘n styging van slegs 0,2% vir landboupryse aan, wat slegte nuus is vir boere wie se koste baie gestyg het, sê die Landboubesigheidskamer (LBK).

Statistieke SA sê die syfer het in die algemeen 7,7% gestyg vergeleke met die syfer van Julie verlede jaar. Dit is wel 1,7% laer as die PPI-syfer van 9,4% vir Junie vanjaar.


Wat landboupryse aanbetref is ‘n daling van 1,3% tussen Junie en Julie vanjaar aangeteken.


Slegte nuus vir boere

Me. Lindie Stroebel, ekonoom, sê die daling is kommerwekkend. “Die koste van produksie het baie gestyg. Dus maak boere baie minder geld,” merk sy op.


Stroebel sê die sektor kan tans nie sulke lae pryse bekostig nie. “Produksiekoste gaan styg meer as wat produksiepryse styg. Dus, soos wat die PPI afplat teenoor die toename in koste, kry boere al hoe minder uit. Die boere moet winste wat gemaak is gebruik om hul doeltreffendheid te verbeter. Meganisasie en verbetering van tegnieke kos baie geld en sonder winste is dit onmoontlik.”


Volgens Stroebel het die tendens ook ‘n uitwerking op landbouverwante bedrywe. “Die LBK het met die LBK en IDC se sakevertrouensindeks se resultate vir die derde kwartaal van 2010 gevind dat besighede nie finansiële probleme het nie, maar wel baie groot kontantvloei probleme het. Dit is weens boere se swak vermoë om lenings terug te betaal omdat die PPI daal en die koste van produksie styg.”


Ondersoek na verskil tussen PPI en VPI

Stroebel meen die verskil tussen die styging in die PPI- en verbruikersprysindeks (VPI)-syfers vir die landbou moet ondersoek word omdat dit aansienlik verskil. “Die PPI vir die landbou styg aansienlik minder as wat die VPI (basies die prys wat verbruikers in winkels vir, byvoorbeeld, brood en groente betaal) styg.”


Die algemene VPI-syfer vir Julie vanjaar het op 3,7% te staan gekom. Dié syfer het met 0,5% gedaal van 4,2% in Junie vanjaar. “Die vergelyking tussen die PPI en VPI vir die landbou moet ondersoek word, en die rede vir boere se krimpende deel van die eindproduk se prys moet gevind word. Dis nie noodwendig uitbuitery of ondoeltreffendheid in die waardeketting nie, dit kan ook bloot swak posisionering, bemarking en ondoeltreffendheid van produsente self ook wees.”


Stroebel voorspel dat die PPI-syfer in komende maande moontlik nog kan daal weens swak kommoditeitpryse.


27 Augustus 2010