Mnr. Xolani Ngwezi, IVP-LP, het dié debat aangevra.

Steyn het gesê Ramaphosa het onlangs die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap aangemoedig om omvattende meerjarige aksieplanne in werking te stel om herhaalde droogtes en voedselonsekerheid aan te pak en sodoende landbouproduksie te verhoog.

Sy het gesê hoewel die siening verwelkom word, moet sy vra waar Suid-Afrika se droogteplan is.

Sy het uitgewys dat Suid-Afrika op 13 Februarie 2018 tot ’n nasionale droogterampgebied verklaar is. Die regering, by monde van dr. Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het toe gesê drie provinsies, insluitend die Wes-Kaap en sommige dele van die Noord-Kaap en Oos-Kaap, word erg geraak en die situasie verbeter nie.

“Dit was 18 maande gelede. Die situasie het intussen vererger en steeds is die regering nêrens te sien nie.”

Steyn het gevra of die regering weet hoe moeilik dit vir boere is om daagliks te besluit watter diere hy voer gaan gee en watter hy gaan laat vrek? Daarmee het sy die traumatiese besluite uitgelig wat boere daagliks weens die voortdurende droogte moet neem omdat hulle nie meer geld het om voer te koop nie.

Sy het gesê dit is nie net veeboere wat geraak word nie, maar ook graan- en gewasboere wat gesukkel het deur 2013, 2015, 2016 en vanjaar weer weens laer as gemiddelde reënval. 

“Dit het boere in grootskaalse skuld gedompel en hulle kan nie verdere krediet van die banke kry nie. Landbouskuld groei jaarliks en is tans rondom R190 miljard.” Daar is ook boere wat hul eie lewe geneem het. 

Sy het weereens ’n beroep op me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gedoen om dringend 'n vergadering te belê vir ministers en landbouleiers om die impak van die droogte te bespreek en ten minste R1 miljard van die geld wat vir agriparke begroot is, vir droogteverligting te bewillig. Sy het ook ’n beroep op mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, gedoen om wetgewing wat die banksektor reguleer, in oënskou te neem sodat boere gehelp kan word met sagte lenings gedurende lang droogtetydperke.

Mnr. Narend Singh, IVP-LP, het gesê dit gaan nie oor die tekort aan reën wat die droogte meebring nie, maar eerder die regering se wanbestuur van water. Hoewel meer mense toegang tot water het sedert 1994, behoort dit nie die fokuspunt behoort te wees nie. “Elkeen in die land sou skoon drinkwater gehad het as die waterhulpbronne reg bestuur is.”

Mnr. David Mahlobo, adjunkminister vir menslike nedersettings, water en sanitasie, het gesê dat Suid-Afrika ‘n waterskaarsland is en klimaatsverandering sal dit moeiliker maak om watervoorraad te voorspel. Daar is damme in klein dorpies en landelike gebiede wat kritiek laag of droog is. Die damvlakke word as deel van die regering se vroeëwaarskuwingstelsel gemonitor en geskikte maatreëls word ingestel om die situasie te verlig.

Mahlobo het gesê dat waterbestuurders nie altyd wil luister na raad nie. Dit gebeur baie keer dat klein dorpe aanhou om water te pomp, ten spyte daarvan dat hulle gewaarsku word wanneer die damvlakke tot ’n sekere punt daal en dat die dorp waternood gaan ontwikkel.