Groenewald het deelgeneem aan die debat op die presidensie se begrotingsrede.

“Edelagbare president, op ’n baie ernstige noot en met groot respek wil ek jou vra, waarom is jy bang om plaasmoorde in die openbaar te veroordeel? Ek verstaan net nie. Die boerderygemeenskap van Suid-Afrika verstaan nie waarom jy dit nie wil doen nie.”

Hy het gesê dat die premiers van Noordwes en Gauteng en selfs die speaker van die nasionale vergadering, me. Thandi Modise, toe sy premier van Noordwes was, plaasmoorde in die openbaar veroordeel het.

Groenewald het weer ’n versoek tot Ramaphosa gerig om plaasmoorde in die openbaar te veroordeel, “want dit is wat die boerderygemeenskap wil hoor”.

Ramaphosa het in sy staatsrede die doelwit daargestel dat misdaad in die volgende tien jaar met die helfte verminder moet word.

Groenewald het hom geloof hiervoor, maar ook uitgelig dat die portefeuljekomitee van polisie reeds in 2012 wetgewing goedgekeur het dat die vingerafdrukstelsel van die departement van binnelandse sake met dié van die polisie verbind moet word. Die rede hiervoor sou wees dat wanneer vingerafdrukke van ’n misdaadtoneel af gelig word, dit onmiddellik met dié van die departement van binnelande sake vergelyk kan word om misdaad doeltreffender te bestry.

Hierdie koppeling het nooit gebeur nie.


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.