Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het ’n beroep op private beleggers gedoen om saam te werk met begunstigdes wie se grondregte herstel is om hul landbougrond in produksie te bring.

Didiza het as deel van die ministers in die ekonomiese groep vrae van parlementslede in die nasionale vergadering beantwoord.

Me. Marie Sukers, ACDP-LP, het gesê tot 90% van grondeisers verkies om eerder kontant as grond te ontvang. Sy wou watter persentasie van die grond wat oorgedra is, word produktief benut.

Didiza het gesê na raming is 80% van die grond wat vir landbou-ontwikkeling aan begunstigdes oorgedra is, onproduktief.

Daar is verskeie redes daarvoor, wat insluit onvoldoende nasorg-ondersteuning en spanning tussen gemeenskapslede oor hoe die grond bestuur en produktief gemaak moet word. “Ons as die staat het ons daartoe verbind om ’n manier te vind om die gemeenskappe te ondersteun, nie net in konflik-oplossing waar daar konflik voorkom nie, maar ook om die grond produktief te maak.”

Sy het gesê verskeie landboubesighede werk saam met gemeenskappe en dat daar sukses behaal is om die grond in produksie te bring. Sy het ’n beroep op ander private beleggers gedoen om saam te werk met begunstigdes op ’n inklusiewe manier wat voordelig vir die gemeenskappe is sodat hulle nie net werkers op hul grond is nie, maar ook in die winste deel. “Ek hoop as ons dit doen, sal ons seker kan maak dat die grond weer in produksie gebring word.”

Medelye

Didiza het haar en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se medelye betuig met familielede van diegene wat die afgelope paar maande in plaasmoorde gesterf het.

Sy het ook gepraat oor die heengaan van mnr. Sizwe Magagula, voormalige voorsitter en direksielid van die Suid-Afrikaanse Avokadokwekersvereniging. “Sy professionaliteit, wysheid, helder denke en verstaan van die avokadobedryf in die groter Suid-Afrikaanse konteks sal sekerlik gemis word. Covid-19 het ons beroof van ’n ware ambassadeur van die avokadobedryf.”