Hierdie aankondiging van die Regering kom terwyl die droogte die Wes-Kaap in ’n ongekende wurggreep het. Kaapstad beleef ’n waterkrisis wat hom die eerste wêreldstad kan maak wat sonder water sit. 

Intussen duur die droogte van die afgelope paar jaar voort in die Noord-Kaap, die Oos-Kaap en dele van die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Voor of op 14 Februarie behoort uitsluitsel gegee te word of die droogte tot ’n nasionale ramp verklaar gaan word.

Die Onteieningswet maak daarvoor voorsiening dat die Regering in tye van rampe “dringende onteiening” kan toepas deur die reg te hê om die eiendom wat hy nodig het, tydelik te onteien vir nie langer as 12 maande nie.

Me. Nomvula Mokonyane, Minister van Water en Sanitasie, het aangedui dat hierdie roete gevolg kan word om die waternood van die mense te verlig.

Landbou besit meeste dammeVolgens data van die Mokonyane se departement is 5 125 damme in die land op sy stelsel geregistreer. Daarvan besit die landbou 4 030 damme, die Departement van Water en Sanitasie besit 323 damme, 66 damme behoort aan ander staatsdepartemente, 318 behoort aan munisipaliteite, 336 word deur mynbou en nywerhede besit en waterrade besit die res.

Mokonyane het op ’n mediakonferensie by die Parlement rakende die droogte gesê dat die departement dit oorweeg om die lisensievoorwaardes van damme in private besit te hersien om te verseker dat voorkeur gegee word aan water vir menslike gebruik.

Sy het ook bygevoeg dat daar binne die grondwetlike reëls opgetree sal word en seker gemaak sal word dat voedselsekerheid nie nadelig beïnvloed word nie. Sy het boere bedank vir die welwillenheid en patriotisme wat hulle voortdurend gedurende die droogtekrisis toon om hulp te gee waar hulle kan.

Lisensievoorwaardes hersienMokonyane het dit ook duidelik gemaak dat daar nie meer damme vir ’n spesifieke doel gebou kan word nie. “Ek is seker julle ken vir ZZ2 in Limpopo.

Die damme in die gebied is spesifiek vir ZZ2 se produksie van tamaties opgerig.” Sy het ook verwys na die Jozinidam in KwaZulu-Natal wat opgerig is vir die besproeiing van suikerplantasies, maar die mense wat daar woon, het nie toegang tot die dam nie. Daar moet wegbeweeg word van damme wat opgerig word vir ’n spesifieke doel, want dit maak nie sin nie, het sy gesê.

“Die lisensievoorwaardes vir die benutting van die dam moet hersien word sodat jy ’n grondwetlike verpligting rakende watervoorsiening kan vervul.”