Die alge in die Roodeplaatdam buite Pretoria het verlede jaar aansienlik verminder nadat Lake Guard™ toegedien is. Nou word ’n dam by Mahikeng, Noordwes, ook daarmee behandel.

Die Setumodam, wat deur Sedibeng Water bestuur word, is vol sianobakterieë, ook bekend as blougroenalge, wat kenmerkende blougroen lyne maak aan die kante van damme.

Die dam lewer water, insluitend drinkwater, aan sowat 500 000 mense, maar dit is erg besoedel. Gebruikers van die dam hoop dat die middel, wat sedert 12 Maart toegedien word, die watergehalte sal verbeter.

PROBLEEM WÊRELDWYd

In 2015 is in ’n studie in die vaktydskrif Scielo South Africa bevind sowat 62% van Suid-Afrika se damme is met die alge besoedel. Dié damme is so groen dat dit vanaf die ruimte sigbaar is. Sowat 60 miljoen damme wêreldwyd het dieselfde probleem.

“Die bakterieë vermeerder besonder vinnig. Binne ’n paar dae kan tien selle tot 167 miljoen vermeerder. As die alge nie bekamp word nie, het jy gou ’n dooie watermassa,” sê mnr. Eyal Harel, een van die stigters en uitvoerende hoof van BlueGreen Water Technologies International.

“Blougroenalge is giftig vir mense en diere,” sê Harel. “Besoedeling, soos riool, bevorder die bakterieë se groei. As ’n oormaat kunsmisstowwe gebruik word, kan dit ook in die riviere afspoel en die probleem vererger. Verder verhoog die water se suurvlak, wat die kunsmis se oplosbaarheid verminder. Derhalwe kan plante dit nie doeltreffend opneem nie.”

goed vir omgewing

Mnr. Jurgens van Loggerenberg, hoofbestuurder van BlueGreen Water Technologies Afrika, sê waterstofperoksied, die aktiewe bestanddeel in Lake Guard™ Oxy, is omgewingsvriendelik. Dit breek in die besoedelde water af in water en suurstof, wat ’n ongunstige omgewing vir die bakterieë skep.

“Groter damme word gewoonlik deelsgewys behandel omdat ’n suurstoftekort in die water kan ontstaan as die bakterieë die dooie sianobakterieë te vinnig verteer. Dit kan ’n probleem vir vislewe in die water veroorsaak.”

Hy sê die gepaste dosis vir damme van enige grootte is veilig. Die nasionale sanitasie-assosiasie het die produk goedgekeur vir gebruik in drinkwater en die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling vir die behandeling van damme.

Boere het gewoonlik 5 kg tot 50 kg van die produk nodig om besoedelde water te behandel. Dit kos ongeveer R3 000 per 5 kg-drom. Kontak Van Loggerenberg by 082 453 4924 met navrae.