In sy langtermynwaarneming van die weer vir 2019 sê prof. Peet Pienaar, bekende weerwaarnemer: “Wanneer ek gevra word om waarnemings vir die volgende jaar te maak, kom ’n ernstigheid oor my omdat ek besef voor watter groot verantwoordelikheid ek te staan kom. Soos lesers reeds weet, is daar kenmerkende eienskappe wat weergewys in die guns van die komende jaar tel. Dit is belangrik om hierdie weerverskynsels korrek waar te neem.

“Wanneer ek die natuur begin ontleed, is daar enkele verskynsels wat prominent na vore tree. Eerstens het die winterreëngebied ’n taamlik goeie reëntyd beleef in 2018. Ongelukkig het die grensgebied nie dieselfde goeie jaar ondervind nie. Gebiede soos Beaufort-Wes, die Klein-Karoo en dele van die Oos-Kaap het droog gebly.”

(Pienaar trek ’n denkbeeldige lyn vanaf Garies, oor Beaufort-Wes tot in Port Elizabeth waarmee hy die somer- en winterreëngebied vir die doeleindes van sy waarnemings verdeel.)

Hy sê tweedens het heelwat sneeu op berge in die Wes-Kaap, Lesotho en KwaZulu-Natal voorgekom. Die winter was deurlopend koud, en soms was dit baie koud.

Derdens het die sardyne in groot skole aan die kus voorgekom, en vierdens het die suidooster sterk gewaai in Augustus en September. Vyfdens, as gevolg van die hoë temperature oor die oseane bestaan die moontlikheid dat siklone kan ontwikkel, sê Pienaar.

“Voorts kyk ek na die fases van die maan en die tyd waarin dit plaasvind. Laastens bestudeer ek sonvlekke, wat met heelwat reën gepaardgaan.”

Pienaar sê die son is die bron van energie wat die weer oor die aarde aandryf. Oorstromings die afgelope tyd in Amerika is ’n duidelike voorbeeld van die groot hoeveelheid energie wat die son in dié droogte en hitte veroorsaak het. Die son, saam met die groot hoeveelheid CO2 in die lug, is die groot faktor wat tot aardverwarming lei. Die voorkoms van sonvlekke is tans onbeduidend.

“Winde is die vliegwiel van die son se warm enjin. Krag word deur die sonenergie op die aarde veroorsaak.” 

Weerwaarnemings vir die somerreëngebied

Januarie. Afwisselende reënbuie kan op 14 Januarie voorkom. Goeie reën word van 20 tot 25 Januarie verwag. Mini-vloede is ’n moontlikheid in dié maand.

Februarie. Ligte reënbuie kan op 4 en 5 Februarie voorkom, en van 18 tot 23 Februarie word goeie neerslae verwag. Hittegolwe met reënbuie kan ook voorkom.

Maart. Afwisselende reënbuie kan op 6 Maart voorkom, en goeie neerslae van 20 tot 25 Maart. Ligte reënbuie word op 28 Maart verwag.

April. Ligte reënbuie word op 5 April voorspel, en goeie reën van 16 tot 19 April. Die eerste ryp kan reeds voorkom.

Mei. Reënbuie is op 5 Mei moontlik. Goeie reën kan van 11 tot 12 Mei val. Ligte sneeu en ryp kan voorkom.

Junie. Koue en ryp word op 3 Junie verwag. Reën en koue weer kan van 7 tot 10 Junie voorkom, met ryp en koue wat vir die res van Junie verwag word.

Julie. Reën en sneeu word van 3 tot 6 Julie voorspel, met erge koue wat op 9 Julie verwag word. Reën en sneeu word vir 25 Julie voorspel, asook ryp.

Augustus. Reën en sneeu word van 1 tot 5 Augustus verwag, asook op 30 Augustus. Augustuswinde gaan baie sterk begin waai vanaf die begin van die maand.

September. Ligte reën word vir 6 September voorspel. Daar is ‘n moontlikheid van sneeu op 14 September. Ligte reën word vir 22 September voorspel, met reën en ligte sneeu op die Kaapse berge op 28 September.

Oktober. ‘n Baie warm Oktober word verwag, met reën van 26 tot 28 Oktober.

November. Hittegolwe sal tot 20 November voorkom. Goeie reënbuie word van 21 tot 26 November verwag.

Desember. Warm en droë weer word van 1 tot 16 Desember verwag, met verspreide reënbuie. Goeie reën word van 18 tot 20 Desember voorspel, en ligte reën op 26 Desember.

Weerwaarneming vir die winterreëngebied

Januarie. Dié gebied kan winderige toestande tot 20 Januarie verwag, met gure weer en hoë deinings om kusgebiede van 20 tot 23 Januarie.

Februarie. ’n Sterk suidooster en warm weer word tot 18 Februarie voorspel, met gure weer met hoë deinings om kusgebiede van 18 tot 20 Februarie.

Maart. Hoë deinings met onstuimige see word van 19 tot 22 Maart verwag, met ’n moontlike koue front wat op 28 Maart kan voorkom.

April. ’n Koue front met hoë deinings word van 16 tot 19 April aan die kusgebiede verwag. Reën is ’n sterk moontlikheid, terwyl ligte sneeu op 16 April in bergagtige dele kan voorkom.  

Mei. Koue fronte met ligte reën en sneeu word op die berge verwag, asook hoë deinings aan die kusgebiede van 12 tot 18 Mei. Koue weer kan die binneland beïnvloed. Wees versigtig om skape te skeer.

Junie. Dié maand gaan na verwagting koud en winderig wees, met ’n koue front van 7 tot 17 Junie. Sneeu op die berge. Hoë deinings word op 7 Junie verwag.

Julie. ’n Koue front met reën word van 3 en 6 Julie verwag. Sneeu met stormagtige weer word vir 5 Julie voorspel.

Augustus. Die maand begin met stormagtige weer van 1 tot 7 Augustus. Stormagtige weer word van 28 tot 30 Augustus verwag, met ’n sterk suidoostewind wat die hele maand kan waai en reën wat in die binneland moontlik is.

September. September begin met koue weer en ’n sterk suidooster wat vanaf einde Augustus sal waai. Hoë deinings en onstuimige seetoestande is moontlik. Reën en ligte sneeu op die berge is op 28 September moontlik.  

Oktober. Ligte reën word in die eerste week van Oktober verwag, en hoë deinings en onstuimige seetoestande in die res van die maand. Ligte reën is op 13 Oktober en dan weer van 26 tot 28 Oktober moontlik.

November. Ligte reën word vir 1 November voorspel, met hoë deinings en onstuimige seetoestande in die res van die maand. Ligte reën, bewolkte toestande en hoë deinings is teen 23 November moontlik.

Desember. Die eerste week sal bewolk wees met ligte reën. Onstuimige seetoestande word verwag, met bewolkte weer en ligte reën op 12 Desember. Hoë deinings en onstuimige seetoestande is op 18 Desember moontlik, waarna bewolkte weer vir twee weke sal volg en ligte reën op 26 Desember.