FarmSol is ’n landboudienstemaatskappy in swart besit wat drie jaar gelede deur die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) op die been gebring is. 

“Ons transformasiedoelwit is die skep en behoud van werksgeleenthede in die landboubedryf, asook geleenthede om vaardighede te ontwikkel en ’n netwerk van volhoubare swart boere te skep,” sê mnr. Aron Kole, besturende direkteur van FarmSol. 

Hy sê om opkomende boere met die nodige vaardighede toe te rus, is ’n langtermynproses. Dit is egter bemoedigend dat die maatskappy naby sy halfpadmerk is. “Dit is ’n bewys van die veerkragtigheid van die boere wat aan die program deelneem, asook die toegewydheid van die belanghebbendes wat daarby betrokke is.” 

Kole sê FarmSol is tans besig om sy aktiwiteite buite die SAB-waardeketting uit te brei om meer rou gewasse uit die breër gemeenskap te bekom. “FarmSol konsentreer nie net net op individuele boere nie, maar ook die gemeenskap en bevolking in die algemeen wat ontwikkeling betref.” 

Een van die program se grootste prestasies is die 13 100 ton gort wat deelnemende boere die vorige seisoen aan SAB gelewer het. Die gort sal as mout gebruik word en verteenwoordig 93% van die gort wat FarmSol-boere gedurende dié seisoen geproduseer het. 

Vir die huidige seisoen het FarmSol kontrakte met 119 opkomende boere in die Wes-Kaap en die distrik Taung gesluit. Hulle sal gesamentlik 7 843 ha gort aanplant. Gebiede in die Wes-Kaap waar gort verbou word, het van 70 000 ha in 2014 tot 85 000 ha in 2017 toegeneem. Tans word beplan om Suid-Afrika se gortproduksie van 150 ton per jaar tot 1 000 ton per jaar op te stoot. Na raming sal 250 ton hiervan uitgevoer word. 

Kole sê ten spyte van die groot planne wat FarmSol vir sy boere het, is daar nog vele struikelblokke. Klimaatsverandering en die voortslepende droogte het ’n verwoestende impak op dié boere gehad en hulle het nog nie volkome van die terugslag herstel nie. “Die regering asook die private sektor moet werkskepping vir opkomende boere as voorkeursaak stel en ondersteun.”

FarmSol, SAB,
Boere wat deel is van FarmSol ontvang opleiding. Foto: Verskaf

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.