Die hersiende sitrusprotokol is onlangs deur me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, onderteken.

Volgens die vereniging kan die plaaslike produksie van suurlemoene teen 2024 met 175 000 ton groei. Die finalisering van die protokol beteken dat China nou ’n belangrike nuwe uitvoermark sal wees.

Dit het ses jaar gekos om die hersiende protokol af te handel nadat die sitrusbedryf versoek het dat suurlemoene vrygestel moet word van die regulatoriese vereistes vir valskodlingmot aangesien suurlemoene nie ’n gasheer vir dié plaag is nie.

Tans is Argentinië en Chili die grootste uitvoerders van suurlemoene na China in die Suidelike Halfrond. Volgens die SKV sal Suid-Afrika albei lande verbysteek wanneer die nuwe protokol in werking tree. Suid-Afrika kan teen 2024 sowat 25 000 ton suurlemoene per jaar na China uitvoer.

Die plaaslike sitrusbedryf het die afgelope paar jaar beduidend meer na China uitgevoer. Verlede jaar is 130 000 ton pomelo’s, lemoene en sagtesitrus na China uitgevoer.

Die ondertekening van die hersiende protokol maak ook die eerste verskeping van Suid-Afrikaanse sitrus na die Filippyne moontlik. Dit sal nuwe uitvoerwinste van naastenby R205 miljoen per jaar tot gevolg hê.