Asof die seisoen klimaatgewys nie moeilik genoeg begin het nie, is daar bykans geen vooruitsig dat produsentepryse gou gaan kop optel nie.

Talle mielieboere is in ’n situasie waar hulle bogemiddelde opbrengste sal moet lewer net om gelyk te speel, terwyl insetkoste steeds styg.

Die rand-dollar-wisselkoers, wat in vorige seisoene telkens gehelp het om plaaslike graanpryse teen internasionale prysdalings te pantser, help te midde van groeiende politieke optimisme nie daarmee nie. Aanduidings is dat die wisselkoers vir die volgende paar maande rondom R12 per Amerikaanse dollar kan stabiliseer en nie gou weer tot R15 tot R16 per dollar gaan verswak nie, sê prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom.

“Dit lyk of die wisselkoers se groot spronge vir eers verby is. Dit behoort sywaarts te beweeg, en kan selfs effens versterk. ’n Klomp ekonome is gemaklik met R11 teenoor die dollar en R15 teenoor die pond,” het hy op sy gereelde kwartaallikse landboumark-werksessie buite Bloemfontein gesê.

Daar is nog daal-potensiaal

Willemse waarsku dat mieliepryse, wat reeds langer as ’n jaar rondom en onder R2 000 per ton en skaars bokant uitvoerpariteitvlak verhandel, in die komende maande met nog sowat R100 tot R150 kan daal.

Dít terwyl die witmielieprys in reaksie op verlede seisoen se rekord-oes reeds gehalveer het, en die geelmielieprys met sowat ’n derde gedaal het. Soos sake nou staan, lyk dit of Suid-Afrika vanjaar weer ’n betreklik groot oes kan hê, ten minste groot genoeg om in die gebruiklike binnelandse verbruik te voorsien. Willemse voorspel in hierdie stadium ’n oes tussen 9,5 miljoen ton en 10 miljoen ton.

Internasionaal is die wêreldprys vir mielies weens groot voorraad onder druk. In 2016-’17 het die wêreldvoorraad ’n rekordhoogtepunt bereik.

Hoewel Suid-Afrikaanse wit mielies al ’n jaar lank goedkoper as geel mielies op Safex verhandel, is daar steeds genoeg in voorraad om in moontlike geelmielietekorte in die veevoermark te voorsien. Voorts is die geelmielieprys ook klaarblyklik nog nie laag genoeg om dit mededingend op die wêreldmark te maak nie, sodat die tempo waarteen dit uitgevoer word, kan versnel. Voordat dít gebeur, sal die reuse- plaaslike oordragvoorraad vir ten minste die volgende jaar Safex-pryse laag hou.

“Daar is nog ’n wit diskonto teenoor geel, maar geel moet eers laag genoeg sak om by die hawe te kan uitgaan. Ons is nog sowat R200 tot R300 per ton bo die uitvoerprys en geel loop nie. As dit nog reën, kan die mark nader aan uitvoerpariteit beweeg. Teen daardie prys kan boere vir die tweede opeenvolgende jaar nie hul produksiekoste dek nie,” sê Willemse.

Verskans vinnig as jy kan

Sy raad aan boere is om so vroeg moontlik minstens ’n deel van hul verwagte mielie-oes met Safex-instrumente te verskans deur ’n vloerprys in te sit. “Na gelang van jou finansiële posisie ís daar metodes om dit te doen, wat jou tussen R20 en R30 per ton behoort te kos. Gaan gesels met die markkenners en jou verhandelaar daaroor. Die beste tyd om te verskans is nou, wanneer onsekerheid op sy hoogste is. As jy wil keer (teen ’n verdere prysdaling) moet jy nie slaap nie.”

Willemse voeg by dat dit nou ook weer tyd kan raak om die uitbreiding van veevertakkings te oorweeg om die risiko van graanverbouing te systap, veral op marginale lande. “Die mielieprys gaan nie gou weer R3 000 per ton haal.”

Vir die koringprys is daar ook nie juis hoop op kort termyn nie. Willemse wys daarop dat twee tot drie jaar se verbruik nodig is voordat groot opgehoopte voorrade in die Noordelike Halfrond gaan ophou om die wêreldprys onder druk te hou.

’n Invoertarief beskerm wel die plaaslike bedryf, maar die probleem is dat hierdie tarief op die prys van Amerikaanse harde rooikoring gegrond is, terwyl verreweg die meeste van die ingevoerde koring ’n goedkoper graad uit Rusland is. As die rand verstewig, plaas dit druk op die invoertarief.

“Daar is ’n siening in die mark dat die koringprys mettertyd behoort te normaliseer, maar ek is nie oortuig nie. Ek sal nie koring opberg nie,” sê Willemse.