'n Bekende vervaardiger van hommeltuie in Potchefstroom het 'n splinternuwe pylgeweer ontwikkel met 'n kinkel: Die pylgeweer is gemonteer op 'n hommeltuig om wild bekostigbaar en vinnig uit die lug te pyl.

Die pylgeweer, wat met lugdruk werk, gebruik ‘n hoë-definisie kamera toegerus met ‘n laserstraal wat help om skote uiters akkuraat te kan plaas deur die kameravisier. Die vlieënier dra ‘n spesiale elektroniese bril waardeur hy kyk na sy teiken vanuit die lug terwyl hy die bok volg met die hommeltuig.

Wanneer die vlieënier sy kop draai, draai die geweer en hommeltuig saam in die rigting waarin hy kyk.

Pylgeweer met twee lope

Die pneumatiese pylgeweer het twee lope, wat twee skote toelaat per vlug. Die sneller word geaktiveer vanaf die vlieënier se handkontrole terwyl hy die hommeltuig vlieg. Die geweer is ontwerp om wild of vee te pyl met ‘n verdowingspyl, maar met ‘n geringe aanpassing kan die hommeltuig ook verfballe of traangas skiet.

Die pylgeweer kan ‘n afstand van 30 meter en verder skiet afhangende van die lugdrukopsie wat uitgeoefen word wanneer die pyle gelaai word.

“HAEVIC het met hierdie unieke hommeltuig-toepassing ‘n uiters nodige produk aan die wildboer, wildvanger en veearts verskaf.  Dis bekostigbaar en kan veilig in die wild- en landbou-industrie gebruik word”, sê dr. Gerhard Coetzee, hoof uitvoerende beampte van die maatskappy.

Navrae: Skakel HAEVIC gedurende kantoorure by (018) 2851291, of stuur 'n e-pos na info@haevic.co.za .