“Ons is op pad na die winter toe en die energie-intensiewe bedrywe soos besproeiing en selfs die koueketting is nie so aktief in dié tydperk nie. Die groot probleme gaan van September, Oktober en November 2021 kom wanneer hierdie energie-intensiewe dele van die landbou-ekonomie behoorlik inskop. Dis dan wanneer dit uiters seer gaan maak.”

Die kragreguleerder het onlangs die groen lig gekry om sy kragtariewe op 1 April vanjaar tot gemiddeld 134c/kWh te verhoog nadat sy dispuut met die kragreguleerder Nersa, wat die stywe verhoging van 15,6% aanvanklik nie goedgekeur het nie, geskik is.

Hierdie tariefverhoging is van toepassing op kliënte wat direk van Eskom krag kry. Dus raak dit die meeste landbou-produsente. Daar is wel boere wat elektrisiteit van plaaslike owerhede af kry. Plaaslike owerhede of munisipaliteite se verhogings tree gewoonlik vanaf 1 Julie in werking.

Intussen voer Eskom aan dat verbruikers steeds te min betaal om die koste van kraglewering te dek en hy sal waarskynlik volgende jaar, wanneer die huidige tarieftermyn eindig, weer vir ’n verhoging vra. Volgens Rapport het Eskom se hoof van regulering, me. Hasha Tlhotlhalemaje, gesê ’n kragtarief van 150c/kWh sal nodig wees om sy koste te verhaal. Om daarby uit te kom, sal ’n verhoging van 29% verg.

Jansen wys daarop dat daar geen manier is waarop boere hierdie en ander verhogings kan deurgee na die res van die landbouwaardeketting nie. Dit beteken dat hulle ’n deel van hul wins moet inboet. “Die vraag is hoe volhoubaar gaan die boere die prysverhogings kan absorbeer? Ons weet dat mieliepryse nou op rekordhoë vlakke is, maar die een of ander tyd daal die grafiek weer en dis wanneer hierdie regstellings in produkpryse kom dat die die bedryf seerkry.”