Dié skenkings van meer as 40 ton het 500 000 mense gevoed. Luidens ’n verklaring deur Kwanalu sal daar in die komende weke verdere skenkings ingesamel word wat 300 000 mense sal voed.

Die skenkings is ingesamel om voedselsekerheid in die provinsie se landelike gebiede te bevorder nadat die onlangse onluste in KwaZulu-Natal en gedeeltes van Gauteng gedreig het om ’n voedselkrisis te veroorsaak.

Me. Sandy La Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, sê die unie het ook onderneem om waardekettings te herstel, landelike veiligheid aan te pak en namens sy lede stabiliteit te bewerkstellig in die landelike gebiede waarin hul besighede geleë is. “Ons leiers op hierdie dorpe bou voort op idees om die burgerlike samelewing te bemagtig om stabiliteit te behaal en die verval van hierdie belangrike dorpe in die provinsie te keer.”

Gedurende die onluste het Kwanalu opnames onder sy lede gedoen om die omvang van die skade aan plase, landelike dorpe en die gemeenskap in hul omgewing te bepaal. Die opnames het bevind dat 31 landelike dorpe deur grootskaalse verwoesting getref is, terwyl 10 dorpe sonder voedsel gelaat is.

Kwanalu tesame met Agri SA het daarom ’n reeks belangrike nasionale ingrypings onderneem om die onluste se impak op die provinsie se landbouwaardeketting, toekomstige voedselsekerheid en landelike stabiliteit so vinnig as moontlik te verminder.

Dr. Kathy Hurly, projekbestuurder by Kwanalu, sê die veerkragtigheid van die landbougemeenskap en die gees van mensliewendheid onder hul vennote het die ramp omskep in ’n geleentheid om kwesbare gemeenskappe by te staan. “Die herbou van verwoeste dorpe sal nie maklik wees nie, maar dit bied dorpe die geleentheid om die manier waarop hulle bestuur word te verander en te bepaal hoe veiligheid, sekuriteit en stabiliteit versterk kan word.

“Vanjaar se onluste het uitgelig dat die dorpe noodsaaklik is vir die oorlewing van duisende mense in die afgeleë landelike gebiede in KwaZulu-Natal.”

Volgens Hurly is al die dorpe wat deur die onluste geraak is, steeds afhanklik van eksterne partye om onder meer voedsel, kontant en dienste te voorsien.

Hurly sê Kwanalu het ’n sakeplan ontwikkel wat daarop gemik is om vroue en jong mense in landelike besighede te steun wat volgens haar op die hele landbouwaardeketting gemik is en kan lei tot die ontwikkeling van nuwe boere en meganismes om boere met plaaslike en nuwe markte te verbind.