Ná ’n vergadering met die boeregemeenskap in die gebied het die VF Plus druk op die provinsiale regering geplaas om die pad dringend te herstel en die nodige onderhoud daarop te doen. ’n Griefskrif daaroor is aan die Vrystaatse wetgewer oorhandig.

Die VF Plus het ook mnr. Sam Mashinini, Vrystaatse LUR van polisie, paaie en vervoer, skriftelik versoek om dringend herstelwerk aan die pad te doen.

Luidens ’n verklaring van die VF Plus berus voedselsekerheid op ’n baie gevoelige waardeketting in die landbou en elke veranderlike, onder meer reënval, weerpatrone en infrastruktuur, speel ’n belangrike rol. “Hierdie veranderlikes moet bestuur word in so ’n mate dat boere in staat is om optimaal te produseer en produkte uiteindelik aan verbruikers te lewer.

“Soos die meeste vervalle Vrystaatse paaie, het die R707 dermate verval dat boere toenemend probleme met voedselproduksie ervaar het. Dié pad het ook ’n veiligheidsrisiko vir alle padverbruikers geword.”

Volgens die VF Plus produseer boere in dié distrik gemiddeld 20 000 ton rooivleis per jaar en hulle dra grootliks by tot die plaaslike munisipale inkomste met grond- en eiendomsbelasting.

“Die Vrystaat is die voedselmandjie van Suid-Afrika en die VF Plus sal voortgaan om te verseker dat die landbousektor beskerm en vir sy lewensbelangrike waarde en bydrae tot voedselproduksie geprioritiseer word.”