Vraag

Ek en my buurman het ’n grensdraad tussen ons kleinhoewes en het ’n ooreenkoms: Ons mag nie by private huise verby ry nie. Indien ’n eienaar op die kleinhoewe van die ander eienaar wil ry, het hy slegs die reg as hy die buurman in kennis gestel het van sy voorneme. Geen jag sonder permitte word toegelaat nie.

Die buurman en sy seun het die ooreenkoms al dikwels verontagsaam, dus het ek besluit om ’n heining op te rig.

Daar was ’n trop van 40 rooibokke op die kleinhoewes voor die buurman ingetrek het. Die bokke het tussen die kleinhoewes gewei en ek het hulle meestal gevoer.

In September 2018 het ek my plaas elders verkoop en 12 njalas na my kleinhoewe gebring. Hulle het tussen die kleinhoewes gewei en ek het meestal die voer voorsien. Die buurman het geen koste bygedra om die njalas daar te kry nie. Sy enigste ander bydrae was om ’n swart rooibok teen R7 200 te koop waarvan ek die helfte betaal het.

Ek het die buurman ingelig ek gaan die heining oprig, waarna hy gesê het hy gaan 50% van die bokke eis. My antwoord was dat hy die rooibokke kan kry en dat die njalas myne is. Hy wil my nou dagvaar. Wat is my opsies?

Raad

Grensheinings moet tussen eiendomme, plase en kleinhoewes bestaan. Deur die draad op te rig, het jy wettig opgetree ingevolge die Omheiningswet (Wet 31 van 1963). Die buurman is aanspreeklik vir 50% van die oprigtingskoste. Die reg bepaal ook dat jy toegang vir verkeer kan beheer met ’n hek voor jou eiendom.

Ingekampte wild behoort aan die eienaar daarvan. Indien die njalas jou eiendom is, mag jy die diere terugbring na jou eiendom en daar ingekamp hou. Die buurman het geen aanspraak op die njalas nie. Julle sou wel kon onderhandel oor die rooibokke en ’n ooreenkoms bereik.