Die program, Die kwik styg, is volgens dr. Ilse Trautmann, hoofdirekteur van navorsing en tegnologie-ontwikkeling by die departement van landbou in die Wes-Kaap, ’n uitvloeisel van dié department se SmartAgri-plan. Sy is ook die koördineer van die reeks.

Sy sê met die program wil hulle probeer om ’n groter bewusmaking van dié provinsie se “nuwe” klimaatsomgewing by luisteraars te bewerkstellig. 

Die reeks word deur die department vervaardig en gefinansier, en die eerste twaalf programme het reeds wye belangstelling ontlok. Die program word weekliks op Vrydae om 12:45 op RSG uitgesaai. Vir 52 weke gaan interessante onderwerpe bespreek word. 

Permanent verander

Volgens Trautmann het klimaatpatrone sodoende verander dat die manier waarop watergebruikers nog altyd water gebruik het, permament verander het. “Ons sal in die toekoms ons watergebruik beter en beter moet bestuur.” 

Die aanbieder, me. Lizma van Zyl, gesels in die reeks met kenners van reg oor die spektrum om wenke in te win oor toepaslike maniere om Suid-Afrika en sy landbousektor meer klimaatslim te maak. 

Donker prentjie

Die prentjie van klimaatsverandering lyk donker, maar daar is altyd die spreekwoordelike lig in die tonnel, sê Trautmann. Sy meen egter dat voorsorg, beplanning, integrasie en die vermoë om aan te pas, ’n beduidende bydrae sal lewer om te verseker dat Suid-Afrikaners hul lewensgehalte en die landbou sy volhoubaarheid behou.

Dié aspekte sal ook in Die kwik styg uitgelig word. Die reeks sal ook groot klem plaas op die verantwoordelikheid van elke landsburger om water te bespaar en slimmer te gebruik, sê Trautmann. 

Meer inligting oor die program is op www.rsg.co.za beskikbaar. Die uitsendings kan ook afgelaai word deur op Potgooi te kliek. Belangstellendes kan Trautmann by e-pos: ilset@elsenburg.com vir meer besonderhede kontak.