Mnr. Fanie du Toit, LP van die VF Plus, het gesê boere van Graaff-Reinet in die Oos-Kaap was hoopvol dat die president droogtehulp sou aankondig. “Op plekke soos Van Wyksvlei in die distrik Kareeberg gaan dit op die oomblik nie net oor vee wat vrek nie, daar is mense – swart, wit en bruin – wat daagliks honger in die oe¨ kyk en aan hul kinders moet verduidelik hoekom daar nie kos op die tafel is nie.” Talle boere se vee het reeds weens die droogte gevrek.

“Ons weet dat boere in Suid-Afrika bankrot speel, hul werknemers moet afle^ en nie meer broodnodige voedsel kan produseer nie. U erken hierdie krisis in u staatsrede, maar op onverklaarbare wyse gaan u voort om nie hulp te verleen aan hierdie kommersie¨le boere nie, maar konsentreer u slegs op opkomende boere.”

Hy het Ramaphosa herinner dat boere werkverskaffers is. Deur nie hulp aan hulle te verleen nie, dra hy regstreeks tot voedselonsekerheid, ekonomiese inkrimping en werkloosheid by.

Volgens Du Toit klink die hennep-projek goed op papier, maar dit sal nie die effek van die veeljarige droogtes wat baie landelike gemeenskappe lamlê, versag nie.

Hy het ook gevra waarom dit so moeilik is om te erken dat plaasaanvalle ’n daadwerklike probleem is wat aangepak moet word. “Waarom word dit nie tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar nie?” Hy het uitgewys dat moorde op plase nie kleur ken nie.

Onteiening

Dr. Annelie Lotriet, DA-LP en voorsitter van die DA se parlementêre koukus, het in die debat uitsluitlik gekonsentreer op die regering se pogings om artikel 25 van die Grondwet te wysig. “Ons het al by herhaling in hierdie huis gewys op die onherstelbare skade wat ’n gepeuter aan artikel 25 tot gevolg kan hê. Dit val gewoon op dowe ore.”

Sy het gesê die ANC se voorstel dat die howe se rol as finale arbiter verminder moet word deur dit te beperk tot hersiening, verwyder die beskerming teen misbruik wat die Grondwet aan alle Suid-Afrikaners bied. Die rol van die howe word dus vervang met die arbitrêre diskresie van politici en die burokrasie.

Volgens Lotriet is dit duidelik dat die regerende party nou die Grondwet wil verander sodat die onteieningswetsontwerp die grondwetlike toets kan deurstaan. Sy het benadruk dat die voorgestelde wysiging ’n aanval op die oppergesag van die reg is soos voorsien in artikel 1 van hoofstuk 1 van die Grondwet, waarin die grondbeginsels van die Grondwet vervat word.

“As die rol van die howe – soos bepaal in die Grondwet – verminder word, het ons nie meer te doen met ’n wysiging van die Grondwet wat ’n tweederdemeerderheid vereis nie, maar goedkeuring van 75% van die nasionale vergadering."

Belofte maak skuld

Lotriet het Ramaphosa daaraan herinner dat hy die land verseker het dat onteiening sonder vergoeding op so ’n manier gedoen sal word dat dit nie die ekonomie en voedselsekerheid in gedrang sal bring nie. Sedert die begin van hierdie proses het sake- en verbruikersvertroue egter tot ’n rekordlaagtepunt verswak. Die aantal landbougrondtransaksies het reg oor die land afgeneem. Private vastebeleggings toon geen vordering nie en onlangs het Moody’s die Land Bank tot rommelstatus afgegradeer. Die rede daarvoor is die onsekerheid wat onteiening sonder vergoeding tot gevolg sal hê.

Lotriet het gesê dat banke steeds die verbandhouer van die eiendom verantwoordelik sal hou vir die verbandlening, al het die staat die eiendom sonder vergoeding onteien.

Die impak hiervan, nie net op die individu nie, maar ook op die finansiële sektor, is aansienlik. Verbande op residensiële, kommersiële en landbou-eiendom, wat deur banke toegestaan is, staan tans op R1,6 triljoen. Die Land Bank kan R53 miljard verloor, het sy benadruk.

Ramaphosa sal vandag sy repliek lewer.