Pres. Cyril Ramaphosa het gisteraand tydens sy tweede staatsrede in Kaapstad gesê die grond hiervoor is reeds geïdentifiseer.

“Strategies geleë grond sal beskikbaar gestel word om behuisingsbehoeftes in stedelike en buitestedelike gebiede aan te spreek.”

Ramaphosa het aangedui dat die Regering sy versnelde program vir grondhervorming wil gebruik om landbouproduksie uit te brei en ekonomiese insluiting te bevorder. In dié verband sien die Regering die moontlikheid van onteiening sonder vergoeding as ’n manier om die proses van grondhervorming te versnel. “Ons beleids- en wetgewende ingryping sal verseker dat meer grond beskikbaar gemaak word vir landbou, nywerheidsontwikkeling en behuising.”

Teen einde verlede jaar het die Parlement die grondwetlike hersieningskomitee se voorstel aanvaar dat artikel 25 van die Grondwet gewysig moet word om duidelik te toon dat onteiening sonder vergoeding ’n opsie is wanneer grondhervorming ter sprake kom.

Die paneel

’n Raadgewende paneel oor grondhervorming is ook deur Ramaphosa in die lewe geroep om verskillende moontlikhede te formuleer van hoe onteiening van grond kan verloop. Hierdie moontlikhede moet nog bekend gemaak word. ’n Ad hoc-komitee van die Parlement sal die wetsontwerp vir die grondwetlike wysiging formuleer.

Ramaphosa het aangekondig dat die paneel, onder leiding van dr. Vuyo Mahlati, voorsitter van die African Farmers Association of South Africa (Afasa), aan die einde van Maart die raadgewende verslag ter tafel sal lê.

Die grondwetlike hersieningskomitee is ook geloof vir die werk wat hy gedoen het, en daar is aangedui dat die komitee die nodige ondersteuning sal geniet ten opsigte van die voorstel wat hy gemaak het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.