Só het dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakekamer Agbiz, gesê in sy openingsrede op die onlangse Ensminger-varksimposium op Benoni.

Hy sê Suid-Afrika se voedselsektor is ’n reusebate vir die land, en pres. Cyril Ramaphosa besef dit. “Hoewel die sektor, soos die res van die ekonomie, ook onder druk is en baie struikelblokke moet oorkom, is daar ook ongelooflike geleenthede weens die groeiende bevolking, nuwe neigings met verbruikersbesteding en nuwe markte wat oopgaan.”

GOEIE NUUS

Purchase het landbou-uitvoer, wat verantwoordelik is vir nagenoeg 53% van die landbou se totale verdienste, as die goeie nuus in die sektor uitgesonder. “Ons voer meer uit as wat ons invoer, en dit is in Amerikaanse dollar. Die afgelope twee jaar het ons jaarliks landbouprodukte ter waarde van meer as $10 mil- jard (R144 miljard) uitgevoer.”

Van die 36 belangrikste landboukommoditeite wat uitgevoer word, is Suid-Afrika ’n netto uitvoerder van 24, en talle groei jaarliks teen 1% tot 6%. Waar Europa tot in 2009 die belangrikste mark was, gaan die helfte van Suid-Afrika se uitvoer nou na die res van Afrika. Die groot taak is nou om in Asië uit te brei.

Purchase sê met die eerste sitrusuitvoer na China ’n paar weke gelede, is China nou ’n besliste uitvoerbestemming saam met ander lande in Suidoos-Asië en die Midde-Ooste. “Dit is hoekom die regering die geleenthede in landbou besef. Ons produseer voedsel teen uitvoer- pariteit. Dit is van die hoogste gehalte en goedkoopste ter wêreld en dit bring buitelandse valuta in.”

BOU VOORT

Purchase sê daar is baie om op voort te bou namate die handelsbalans verbeter. Dit geld ook voedselverwerking, wat steeds groei te midde van ’n krimpende vervaardigingsektor. Uitvoer en verwerking is die twee troefkaarte in die voedselwaardeketting. In teenstelling hiermee wek die land se kwynende bruto binnelandse produk (BBP) groot kommer.

In dollarwaarde het die BBP van $470 miljard (R7 biljoen) in 2011 tot $294 miljard (R4 biljoen) in 2016 gedaal. Per capita was die afname rofweg van $8 000 (R115 280) tot $5 200 (R74 932) in sowat ses jaar. Almal het armer geword, en die Zuma-administrasie moet die blaam hiervoor dra. “Ek dink die regering is besig om die regte planne in plek te kry. Hulle konsulteer nou baie meer met ons in die bedryf as wat die geval die afgelope tien jaar was.”

herstel kan jare duur

Hy meen dit sal 3 tot 5 jaar duur om groei van 2% tot 3% te bewerkstellig, terwyl groei van 5% tot 6% eintlik nodig is om die 27% werkloosheid en 50% jeugwerkloosheid aan te pak.

Purchase sê normaalweg sou massiewe werkloosheid soos hierdie tot ’n burgeroorlog lei, en die protesoptredes in veral landelike gebiede, kan dalk as ’n tipe burgeroorlog beskryf word. Hy het baie van dié statistieke in ’n voorlegging verlede jaar aan Ramaphosa oorgedra, wat toe vir die vyfjaarplan gevra het. Die plan is nou deel van die regering se mediumtermyn-strategiese raamwerk, en

Purchase sê daar was reeds talle vergaderings met kabinetsministers daaroor. Die belangrikste aspekte van die plan sluit in werksgeleenthede in die landbou, uitvoer, winsgewendheid en mededingendheid wat onder druk is veral weens gebrekkige dienslewering deur die staat, die verlies van landbou- grond, verswakte infrastruktuur en swak voorligtingsdienste.

Die sleutelfaktore vir sukses is die verdere ontwikkeling van verwerkingsvermoë, verhoogde produksievermoë, markontwikkeling, bewaringsbewerking en die benutting van nuwe tegnologie.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.