Horner se lyk is op 2 Oktober teen ’n paal vasgebind op die plaas De Rots naby Paul Roux in die Vrystaat gevind. Twee verdagtes is intussen in verband met die moord in hegtenis geneem en het verlede week in die landdroshof op Senekal verskyn. Hulle verskyn weer Vrydag in die hof.

Ramaphosa sê Horner se moord dui op die hoë vlakke van geweld in Suid-Afrika en dat die “gewelddadige protesaksie” wat verlede week in Senekal plaasgevind het, ook ’n aanduiding is dat verdeeldheid en ’n gebrek aan vertroue steeds ’n kwessie is.

“Die wrede moord op ’n jong wit boer, vermoedelik deur swart mans, gevolg deur die skouspel van wit boere wat ’n polisiekantoor bestorm om by swart verdagtes uit te kom, het weer ou wonde oopgekrap.

“As ons gewelddadige misdade suksesvol gaan aanpak, veral in landelike gemeenskappe, moet ons die trauma en kwessies van rassehoudings aanpak.”

Ramaphosa sê dat mense verkeerd is as hulle meen plaasaanvalle beïnvloed net ’n klein gedeelte van die land se bevolking. “Die boeregemeenskap is ’n belangrike deel van ons ekonomie. Hulle produseer die kos wat ons eet. Gewelddadige misdade op plase is ’n bedreiging vir die veiligheid van ons landelike gemeenskappe en ons land se voedselsekerheid.”

Hy sê die bewering dat gewelddadige misdade op plase ’n georganiseerde poging deur swart mense is om wit boere van hul grond af te dryf, is nie geldig nie. “Verskeie studies het reeds bewys misdaad in boeregemeenskappe is meestal opportunisties van aard. Landelike gemeenskappe is kwesbaarder omdat hulle meer afgesonder is en as gevolg daarvan gebrekkige toegang tot sekerheid en ander dienste het.”

Hy sê die sukses van die landelike beveiligingstrategie berus op beter samewerking en kommunikasie tussen die polisie en die sakewêreld, asook landbou-organisasies en boeregemeenskappe.

“Daar moet samewerking tussen plaaswagte en gemeenskapspolisiëringsforums wees. Boeregemeenskappe, dit sluit plaaswerkers in, moet aktief aan dié forums deelneem, want hulle is die ore en voete op die grond.

“Boere moet wetstoepassingsbeamptes meer toegang tot hul grond bied. Private sekerheidsmaatskappye moet nouer met die polisie saamwerk. Ons moet aanhou om verdere maatreëls, soos geïntegreerde kommunikasiestelsels, te oorweeg sodat landelike veiligheid verskerp kan word.”

Ramaphosa sê dit is ook belangrik dat in landelike ontwikkeling belê word sodat ongelykheid aangepak kan word. “Ons moet saamwerk om die lewensgehalte van almal in landelike gemeenskappe te verbeter om armoede, ’n groot bydraende faktor tot misdaad, uit te skakel.”

Hy sê dit sou naïef wees om te dink dat rasseverhoudings in boeregemeenskappe sedert die begin van Suid-Afrika se demokrasie bestel vreedsaam was. “As dit nie op ’n oop en eerlike manier aangepak word nie, as ons nie voorbereid is om ’n dialoog daaroor te hê nie, sal dié wond ’n sweer bly wat sosiale samehorigheid voorkom.

“Wat in Senekal gebeur het, wys weer hoe maklik die kruitvat van rassehaat aangesteek kan word. Ons moet enige pogings weerstaan om misdaad op plase te gebruik om gemeenskappe volgens rasselyne te mobiliseer.

“Een moord is ’n moord te veel. Ons staan in solidariteit met alle slagoffers van misdaad, ongeag of hulle in die stad of in die platteland woon, asook of hulle boere of plaaswerkers is.”

Intussen sê die DA dat hy beoog om regstappe teen mnre. Julius Malema, EFF-leier, en Nazier Paulsen, EFF-LP, te doen nadat hulle uitlatings op sosiale media gemaak het wat geweld aanhits. Albei het foto’s van hulself met masjiengewere op sosiale media geplaas.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die aanklagte van onder meer terrorisme, poging tot moord, aanhitsing tot openbare geweld en openbare geweldpleging teen mnr. André Pienaar (51) ná die geweldpleging in Senekal dien as bewys dat daar dubbele standaarde is wanneer boere en die landbougemeenskap geraak word.

“Die staat het ’n senior advokaat aangestel om Pienaar se borgtogaansoek teen te staan. Dit is duidelik dat die vervolgingsgesag ‘n voorbeeld van Pienaar wil maak om sodoende ’n boodskap aan die boere en die landbougemeenskap te stuur.

“Die klagte van terrorisme en poging tot moord is ernstig en onbillik. Daardeur maak die vervolgingsgesag homself skuldig aan vooroordele en vervul hy nie sy rol as ’n objektiewe gesag wat gelykmatig in belang van elkeen in die land moet optree nie.

“Daar was geen sprake van terrorisme tydens die Senekal-hofsaak nie en niemand se lewe is bedreig nie. Hierdie tipe aanklagte gaan net emosies opjaag en kan lei tot verdere konflik in Suid-Afrika. Dit kom neer op verdere aanhitsing deur die vervolgingsgesag.

“Daar is nêrens gesien dat enige klagte van terrorisme en poging tot moord ingedien is teen lede van die EFF toe hulle in ’n landwye veldtog van geweld Clicks-winkels geplunder het nie.”