Die hoofklem van die herstelplan is op werkskepping, infrastruktuurprojekte, die uitbreiding van die land se kragopwekkingsvermoë en nywerheidsontwikkeling.

Mnr. John Steenhuisen, DA-leier, het gesê dis nie ’n plan wat Ramaphosa bekend gestel het nie, maar eerder ’n wenslys met waardige bedoelings wat vir Kersvader geskryf is.

Mnr. Floyd Shivambu, EFF-LP, het Ramaphosa aangeval omdat volgens hom daar niks oor die grondkwessie in die plan is nie.

Ramaphosa het gesê hy het gekies om die plan aan ’n gesamentlike sitting van die parlement voor te lê sodat die verkose leiers van die land die geleentheid het om dit eerder kragtig te debatteer as wat hulle politieke punte probeer aanteken. Hy het benadruk dat die plan die onmiddellike aksie uitwys van hoe die land sy ekonomie gaan herbou, werk gaan skep en verligting aan sy landsburgers gaan bring.

Hy het gesê dat die land nie net moet herstel tot die ekonomiese vlakke voor die Covid-19-pandemie nie, maar homself moet ophef uit die ekonomiese verval wat al jare aan die gebeur is.

Anders as ander lande se ekonomieë moet nie net die verlore werk weens die pandemie herstel word nie, maar werk moet ook geskep word vir diegene wat reeds voor die pandemie werkloos was. Die plan wys daarop dat die private sektor die grootste drywer van indiensneming is.

Ramaphosa het benadruk dat dit die meeste van belang is om seker te maak dat die plan werk, nie om ’n erfenis van ’n administrasie te vas te lê of vir eie belang van een of ander politieke party te dien nie.

Handevat

Die DA het toegegee dat daar tog dele in die plan is wat nie net ’n skrywe aan Kersvader is nie. Die party het aangebied om Ramaphosa te help om hierdie hervormings te laat realiseer. Dit is kwessies soos die opveil van spektrum om datakoste te verlaag, hervormings by Eskom en die opening van die energiemark aan meer onafhanklike produseerders.

“Die vyande van groei en die blokkeerders van hervorming is nie ’n mag van buite nie, en anders as die lede in rooi (EFF) sit hulle nie in die opposisiebanke nie, maar rondom jou, mnr. President.”

Steenhuisen het gesê daar is ’n manier hoe die vyande van groei gesystap kan word en die hervormings goedgekeur kan word. “Bring hulle na die huis en ons sal jou help om dit deurgevoeg te kry.”

Grondkwessie

“Watter soort ekonomiese herstelplan bevat nie die grondkwessie nie, want grond en alles waarmee dit gepaardgaan is die ware ekonomiese aktiwiteit en -uitbreiding,” het Shivambu gesê.

Hy het gesê die rede waarom Ramaphosa nie die grondvraagstuk genoem het nie, is omdat “diep in sy neo-liberale reaksionêre oortuiging” hy glo dat die enigste manier vir die swart meerderheid om uit armoede te beweeg, deur ’n werk is. Nog ’n rede wat Shivambu noem, is dat Ramphosa nie glo dat Suid-Afrika grond moet onteien sonder vergoeding nie.

Mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale en energie, het teruggekap dat al wat die EFF van grond ken, is vergrype vir informele nedersettings. Shivambu verstaan nie dat oor grond gepraat word wanneer gepraat word oor voedselsekerheid nie.

Ramaphosa het in sy repliek benadruk dat om toegang tot grond te verleen ’n sleutelpilaar van die staat se ontwikkelings- en transformasiebeleid is om mense se lewens te verbeter.

Energie

Mantashe het in die debat aangekondig dat sy departement 16 313 MW opwekkingsvermoë beoog, wat van verskeie energiebronne sal kom.

Dit sluit in die aanskaffing van 2 000 MW noodenergie om korttermynverligting te bring wat teen Junie 2022 ten volle die nasionale elektrisiteitsnetwerk sal bedien; die aanskaffing van 11 813 MW, wat sal bestaan uit 6 800 MW hernubare energie soos son- en windkrag, 513 MW opgebergde energie, 3 000 MW energie van gas en 1 500 MW van steenkool.

Voorstelle sal in Desember 2020 gevra word vir die opening van verskeie bodkanse, insluitend bodkans 5 vir hernubare energie. Hy het gesê dat inligting aangevra is vir 2 500 MW vir die kernkragprogram en dat die inligting tans beoordeel word.