Ramaphosa het sy misnoeë oor dié misdaad duidelik gemaak nadat dr. Pieter Groenewald, die leier van die VF Plus, hom gister weer gevra het waarom hy bang is om dit in die openbaar te veroordeel. Groenewald het aangevoer dat die boerderygemeenskap van Suid-Afrika nie verstaan waarom Ramaphosa dit nie wil doen nie.

“Ek doen dit. Ek het al en sal voortgaan om moorde op plase te veroordeel. Ek sal voortgaan om moord op boere en plaaswerkers te veroordeel,” het Ramaphosa gesê.

Hy het benadruk dat elke lewe in die land gelyke waarde het en dat elke geweldsmisdaad onomwonde veroordeel moet word. In Afrikaans het hy herhaal: “Elke lewe in hierdie land het gelyke waarde en elke moord en geweldsmisdaad moet sonder onderskeid veroordeel word.”

Hy het ook verduidelik dat die nasie nog ’n pad moet loop na versoening en die gelyke waardering van die waarde van elke lewe in die land.

Hy het dit ook op rekord gestel dat hy plaasmoorde in antwoord op ’n parlementêre vraag op 2 November 2018 veroordeel het.

“Geweldsmisdaad is reg oor Suid-Afrika ’n ernstige kwessie van kommer, ongeag waar dit gebeur of wie dit raak. Ons veroordeel alle moorde in die land ten sterkste, insluitend moorde op boere en plaaswerkers. Ons is daartoe verbind om alles moontlik te doen om elke burger van die land teen alle vorme van geweld te verdedig, ongeag waar hulle woon of waar hulle werk.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.