Dié nuus het skokgolwe gestuur deur organisasies wat hulle beywer vir grond- en verblyfregte van mense onder tradisionele leierskap. Die parlement het die wetgewing maande gelede goedgekeur waarna dit op Ramaphosa se lessenaar gelê het vir oorweging.

Die sentrum vir grond en verantwoordbaarheid (LARC) aan die Universiteit van Kaapstad sê die burgerlike gemeenskap het verwag dat Ramaphosa die wetsontwerp na die Parlement sal terugstuur nadat twee paneelverslae gewaarsku het dat bepalings van die voorgestelde wetgewing inbreuk maak op fundamentele grondwetlike regte. Dit is in 2017 deur die hoëvlakpaneel onder leiding van oudpres. Kgalema Motlanthe uitgewys. Meer onlangs het Ramaphosa se eie raadgewende paneel oor grondhervorming dit ook uitgewys.

Verskeie voorleggings wat rakende die wetgewing ingedien is, het gewaarsku dat dit die gewoonte- en informele eiendomsregte ondermyn wat in artikel 25(6) van die Grondwet beskerm word. Die LARC sê Ramaphosa het sterk regsgronde gehad om die wetgewing na die parlement terug te stuur. “Hy het gekies om dit te ignoreer.”

Wetgewing

Die Wet op Tradisionele en Khoisanleierskap gee erkenning aan tradisionele leierskap van die Khoisan en San, maar dit gee ook tradisionele leiers en -rade die mag om ooreenkomste aan te gaan met beleggingsmaatskappye sonder om toestemming te kry van diegene wat se grond regstreeks geraak gaan word.

“Geen vorige wet in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, nie eens gedurende kolonialisme en apartheid, het tradisionele leiers die mag gegee om mense van hul grondregte te ontneem sonder hulle toestemming of onteiening nie,” sê dr. Aninka Claassens, senior navorser by die LARC.

Selfs die Khoisan sal nou onderwerp word aan die regteskending wat die wetgewing meebring.

Waarom nou?

Die LARC glo Ramaphosa het die wetgewing nou bekragtig omdat baie van die bestaande beleggingstransaksies, veral vir mynbou, wetlik onseker gelaat is omdat tradisionele rade wat dit onderteken het, nie voldoen het aan die wetsvereiste om vroue en gekose lede in te sluit nie.

Die wetgewing is ’n poging om die gevolge te verwyder vir ongeldige rade wat misluk het om te transformeer. Dan ook was daar twee belangrike hofuitsprake in 2018 wat beslis het dat sekerheid tot verblyfreg in vorige tuislandgebiede gehandhaaf moet word in die konteks van mynwese.

Hierdie hofbeslissings bepaal dat die betrokkenes toestemming moet gee of dat onteiening moet geskied deur die regsproses as die informele verblyfreg ontneem word.

Die wetsontwerp volg kort ná die uitspraak in Oktober 2018 in die Grondwethof in die geding tussen Maledu en Itereleng Bakgatla Mineral Resources. Die hof het beslis mynregte weeg nie swaarder as verblyfregte nie. Claassens sê die nuwe wet is ’n poging om hierdie belangrike presedent te omseil.