Suid-Afrika is die volgende koördineerder van die komitee vir Afrika-hoofde en -regerings op klimaatsverandering. Dit komitee vervul ’n belangrike rol om te verseker dat Afrika verenig bly en met een stem praat oor die sleutelkwessies van klimaatsverandering wat die vasteland raak.

“As ons ’n land is wat die belange van die armes en kwesbares vooropstel, dan moet ons met groter dringendheid optree teen die gevolge van klimaatsverandering en ’n bydrae lewer om dit te verhoed.

“Die landelike armes word die meeste geraak deur droogtes wat meer gereeld voorkom het en langer aanhou.”

Hy het gesê dat armes in landelike gebiede die meeste druk ervaar ten opsigte van die uitwerking van droogte op kospryse en die beskikbaarheid van voedsel. “Dit is die mense in informele nedersettings wat die meeste deur oorstromings geraak word, wat deur uiterste weersomstandighede gevolg word.

“Ons word almal op verskeie maniere geraak deur die uitwerking van omgewingsveranderinge op die grond, ons oseane en lug.”

Ontwikkelingsdoelwitte

Hy het gesê as klimaatsverandering nie aangepak word nie, sal die land nie sy ontwikkelingsdoelwitte kan bereik nie. Suid-Afrika het die Parys-ooreenkoms onderteken ingevolge waarvan talle lande aandui dat hulle deel vorm van ’n wêreldwye poging om klimaatsverandering teen te werk en om ’n lae koolstofekonomie te volg.

Ramaphosa het gesê dat stappe gedoen word om die land se eie en eerste nasionale konsepwetsontwerp op klimaatsverandering te finaliseer. Hierdie konsepwetsontwerp moet nog by die Parlement ingedien word. Dit baan die weg vir koolstofbegrotings en versagtings- en aanvaardingsmaatreëls.

Die voorgestelde wetgewing erken dat antropogeniese klimaatsveranderinge ’n ernstige bedreiging vir gemeenskappe is en dat dit doeltreffende, progressiewe en goed gekoördineerde reaksie vereis. Dit lig verder uit dat die verwagte impak van klimaatsverandering ontwikkelingsdoelstellings kan ondermyn en dat die optrede daarteen ’n wetlike benadering verg. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.