Skedule 2 van die Wet op Elektrisiteitsregulering (Wet 4 van 2006) sal gewysig word om dit moontlik te maak. Daar is verder aangedui dat onafhanklike energieproduseerders ook hul krag aan ander mag verkoop.

Suid-Afrika word al byna twee weke deur beurtkrag geteister. Woensdag is fase 4-beurtkrag toegepas. Met die jongste aankondiging is dit duidelik dat die regering sy planne – om die drempel net tot 10 MW te verhoog soos mnr. Gwede Mantashe, minister vir minerale hulpbronne en energie, onlangs aangekondig het – heroorweeg het.

Ramaphosa het gesê daar is geen twyfel dat die volgehoue energietekorte en verdere beurtkrag ’n massiewe risiko vir die land se ekonomie inhou nie. Energiesekuriteit is een van die prioriteitsingrypings in Suid-Afrika se ekonomiese herkonstruksie en herstelplan.

Die regering het reeds die afgelope tyd verskeie aankondigings gemaak rakende die oplos van die energiekrisis. Dit sluit in die bekendmaking van 11 suksesvolle bieërs vir die risikobeperkingsprogram vir die aanskaffing van elektrisiteit en die oopstel van bodvenster 5 van die herwinbare-energieprogram om 2 600 MW kragopwekkingkapasiteit van wind- en sonkragprojekte te bekom.

Ramaphosa het aangedui dat hoewel Eskom hard werk om die werkverrigting van sy bestaande kragsentrales te verbeter, is dit nie genoeg om die onmiddellike en beduidende kragtekorte wat die ekonomiese herstel bedreig, aan te pak nie.

Ramaphosa het benadruk dat die regering gehoor gee aan kenners en nie skroom om nuwe idees te volg om die energiekwessie wat al langer as ’n dekade bestaan, op te los nie. Die departement van minerale hulpbronne en energie sal binne die volgende 60 dae die finale weergawe van die wysiging aan skedule 2 adverteer.

Ramaphosa luister

Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se afdeling vir ekonomie en handel, het gesê die verhoging van die drempel, waarby hernubare energie opgewek kan word met registrasie by Nersa – waarvoor die duur en lywige lisensiëringsproses ten opsigte van grootmaatkragopwekkingsentrales dus nie nodig is nie – word verwelkom. Dit maak die deur oop vir goedkoper, private opwekking met die administratiewe beperkings wat verlig word en dit dus aanlokliker maak om betrokke te raak by die opwekking van energie. “Dit is wat ons nodig het. Die private sektor moet betrokke raak en die vereiste beleggings maak om baie vinnig, op ’n ekonomies volhoubare manier, aanvulling in die beskikbaarheid van energie binne Eskom te kry.

“Wat meer prysenswaardig is, is die wyse waarop Ramaphosa ag geslaan het op die invloed van die private sektor en private ekonomie wat aandui dat hierdie nodig is en (dat hy) gunstig reageer om so ’n aankondiging te maak. Dit wys hy is in voeling met die ekonomie en luister na die vryemarkekonomie en hy reageer opbouend daarop.”