“Die president het my gekontak om my te bedank vir die brief en om aan te dui dat hy graag sou wou gesels oor die brief en die voorstelle,” vertel Serfontein. Daar is nog nie ’n datum vasgemaak vir die afspraak nie.

Serfontein het tydens ’n onderhoud met mnr. Chris Burgess, uitvoerende redakteur van Landbouweekblad, op Landbouweekliks gesels oor die brief en sy besluite rondom hulp aan opkomende boere. Hy sê tydens die onderhoud dat hy vol moed is dat iets gaan gebeur.

Volgens Serfontein kan die kommersiële landbousektor transformasie van die sektor binne drie jaar begin reg kry, terwyl die Regering dit nie die afgelope 24 jaar kon reg kry nie.

Serfontein het honderde antwoorde op sy brief ontvang, en hy sê al die opkomende boere wat hom gekontak het, is nie ten gunste van onteiening sonder vergoeding nie. Hy het selfs boere van Namibië gehad wat hom gekontak het vir hulp en raad.

Serfontein is een van die sprekers tydens Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad op 23 en 24 Augustus buite Bela Bela.