Pres. Cyril Ramaphosa het in sy laaste vraag-en-antwoordsessie vir die jaar in die nasionale vergadering gesê hy is bekommerd oor die gebeure. Hy het hom ook sterk uitgelaat oor diegene, soos die EFF, wat luidkeels dreig met oorlogvoering.

Adv. Bongani Bongo, ANC-LP, het Ramaphosa gevra watter stappe die staat doen om verdeeldheid in die gemeenskap, veral langs raslyne, aan te pak. Hy het gesê die land se nie-rassige en eenheidskarakter word ondermyn deur situasies soos die gewelddadige protesoptog in Senekal verlede maand weens die moord op ’n plaasbestuurder.

Geweld het in Senekal uitgebreek nadat twee verdagtes vir die moord op die 22-jarige mnr. Brendin Horner, plaasbestuurder van Paul Roux, in die hof verskyn het. Boere het die hofgebou gestorm, ’n Njalapantservoertuig is uitgeskrum en ’n polisievoertuig is omgekeer en aan die brand gesteek. In ’n ander onlangse voorval het ouers en EFF-lede slaags geraak toe die EFF by die Hoërskool Brackenfell betoog het nadat wit matriekleerders ’n private partytjie op ’n private perseel gehou het.

Waarskuwing

Ramaphosa het ’n waarskuwing uitgestuur aan diegene wat dreigemente oor oorlogvoering maak. “Niemand in Suid-Afrika moet praat van oorlog nie. Oorlog is ’n baie gevaarlike verskynsel. Ek meen diegene wat van oorlog praat, speel met vuur. Hulle moet kyk wat oorlog aan ander lande doen.”

Hy het benadruk dat oorlog net ’n pad is wat lei na lyding en alles wat verkeerd is in menslike ontwikkeling. Daarom moet daar nóóit van oorlog gepraat word nie. “Ek sal eintlik sê dat die soort taal deur ons almal as Suid-Afrikaners verbied moet word. Ons wil nie oorlog in ons land sien nie. Ons is ’n land wat opgestaan het uit die ergste menslike verval wat regtig ’n oorlog was teen die landsburgers en ons moet dit daar laat. Dit is in die verlede. Ons is nasiebouers, dit is wat ons is. Ons sal altyd verskil, sal altyd probleme hê, maar moet voortdurend daartoe verbind wees om oplossings te vind.”

Hy het dit onomwonde gestel dat die staat daar is om alle Suid-Afrikaners, ongeag ras, te beskerm.

“Ons wil dit duidelik maak dat ons mense wil beskerm wat op die plase werk en woon. Of dit nou die plaaswerkers of die boere, wit of swart, is, hulle moet almal beskerm word en moet beskermd voel.”

Hierdie burgers moet ook voel dat Suid-Afrika hul land is en dat daar nie elders is om te gaan nie. “Hulle bly hier en waar hul beskerming tekortskiet, moet ons maniere vind om hul beskerming te versterk soos deur die polisie en ander belanghebbendes.”

Saamstaan teen rassisme

Ramaphosa het dit pertinent gestel dat die voorvalle, wat dui op die verlede wat steeds met die land is, nie die breër Suid-Afrikaanse werklikheid weerspieël nie.

Hy het uitgewys dat rasseverdelings gevind word in die strukture van die land se ekonomie, die verspreiding van vaardighede, grond en ander bates, toegang tot dienste, en die ruimtelike beplanning van die stede, dorpe en landelike gebiede.

“Hierdie is die verdelings waaraan ons hard werk die afgelope 26 jaar van ons demokrasie. Dit is die pad wat ons gekies het. Dit bly ons grootste en belangrikste probleem.”

’n Ligpunt wat hy uitgewys het, is dat die meeste Suid-Afrikaners die werk ondersteun wat gedoen word om rassisme en rasse-ongelykheid te oorkom. In 2019 het die SA versoeningsbarometer aangedui dat 71% van Suid-Afrikaners glo dat ’n verenigde Suid-Afrika moontlik is. “Sewe uit tien Suid-Afrikaners stem saam dat ten spyte van ons verskille, is daar meer wat ons verenig as ’n nasie as wat ons uitmekaar hou.”

Ramaphosa het gesê die taak van die staat en die breë samelewing is om saam te staan en op te tree om alle vorme van rassisme, rasseverdeling en rasse-ongelykheid te beeïndig.

“Ons moet rasseverhoudings voortdurend konfronteer en alle voorvalle van rassistiese gedrag veroordeel. Diegene wat rassespanning wil verewig, moet weet hulle is in die krimpende minderheid.”