Ramaphosa het vrae in die Nasionale Raad van Provinsies beantwoord rakende kommer oor wat die impak van onteiening sonder vergoeding op die land kan wees.

Die Vryheidsfront Plus het al bekend gemaak dat hy nie sal skroom om vir sanksies te vra as die ANC nie tot die besef kom dat onteiening sonder vergoeding Suid-Afrika gaan vernietig nie.

Ramaphosa het uitgewys hy het die grondhervormingskwessie met me. Theresa May, die Britse eerste minister, einde verlede maand op haar besoek aan Suid-Afrika bespreek.

May het die manier waarop die land die grondkwessie benader verwelkom en verstaan dat grondhervorming verdere beleggingsmoontlikhede kan ontsluit solank dit wettig, deursigtig en ’n produk van die demokratiese proses bly.

Trump se twiet

Ramaphosa is ook gevra om te reageer op ’n twiet van die mnr. Donald Trump, die president van Amerika, en wat die moontlike diplomatieke implikasies daarvan is.

Trump het verlede maand getwiet dat hy mnr. Mike Pompeo, die Amerikaanse minister van buitelandse sake, gevra het om die grondkwessie en plaasmoorde in Suid-Afrika te bestudeer.

Ramaphosa het gesê dat sy kantoor geen mededeling van die Amerikaanse regering oor die onteiening van grond sonder vergoeding ontvang het nie. Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerkende Regering het met die Charge d’Affaires van die Amerikaanse ambassade oor die twiets vergader. Dié kantoor is aangemoedig om Suid-Afrika se kommer aan Amerika oor te dra en aan te dui dat die land se burgers saam na ’n oplossing vir hierdie geskiedkundige probleem soek.