Verskeie sprekers in die debat het gesê dat die landbou van deurslaggewende belang is en dat halt geroep moet word met onteiening sonder vergoeding, want dit sal beleggersvertroue skaad.

Ramaphosa het daarop gewys dat die land ’n wye reeks landbouprodukte produseer en uitvoer. “Die belegging wat ons in die landbou en landbouverwerking maak, sal ons toelaat om die volle potensiaal van hierdie groot herwinbare hulpbron te laat realiseer.”

Maar as die land sukses hiermee wil behaal, sal landbou-ontwikkeling met ’n doeltreffende en versnelde grondhervormingsprogram verbind moet word, het hy gesê. “Ons moenie soos sommige van die agbare lede doen, ’n kompromis sien tussen grondhervorming en landbou-uitsette nie. Hulle moet aanvullend en onderling versterkend wees.”

Hy het aangevoer dat die bied van meer grond aan baie meer Suid-Afrikaners nie net gaan oor die herstel van die foute van die verlede nie, maar dat dit ook handel oor die bou van ’n vooruitstrewende en meer inklusiewe toekoms.

Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het op Twitter teruggekap deur te skryf “staak die uitsetting van boere”.

Moed

Ramaphosa het ook probeer om landsburgers moed in te praat. Hy het gesê dat die Covid-19-pandemie oorkom sal word en dat die ekonomie herbou sal word op ’n manier wat meer inklusief is, wat werk skep en mense uit armoede ophef.

Hy het ook beloof dat korrupsie beeïndig sal word, strate veiliger sal wees en dat ’n staat gebou word wat doeltreffend sy mense kan dien.

Hy het gesê dat die inentingsprogram teen die koronavirus ’n onmiddellike prioriteit is en dat met geldelike verligtingsmaatreëls voortgegaan sal word om mense te help.