Dít was deel van pres. Cyril Ramaphosa se boodskap oor die landbousektor tydens sy tweede staatsrede wat hy gisteraand in die Parlement in Kaapstad gelewer het.

Ramaphosa meen hoewel die sektor goed ontwikkel is, is die sektor se potensiaal vir werkskepping en ekonomiese groei steeds grootliks onderontwikkel.

Werkskepping en ekonomiese groei was van die belangrike punte wat Ramaphosa beklemtoon het.

Hy het aangedui dat die staat nou sy aandag, beleid en projekte toespits op die sleuteldele van die ekonomie wat arbeidsintensief is. Dít sluit in die landbou, toerisme en die ekonomiese potensiaal van Suid-Afrika se oseane.

Volgens Ramaphosa beskik die land oor groot gebiede grond wat nie ten volle benut word nie of wat onproduktief is. Hy het klem gelê op die bystand wat die sowat 250 000 kleinskaalse, opkomende boere benodig om hul besighede te ontwikkel.

Verder het Ramphosa uitgebrei oor die belangrike bron van inkomste wat die uitvoer van landbouprodukte vir Suid-Afrika is. Hy sê die ontwikkeling van die landbousektor is die sleutel tot die verbetering van voedselsekerheid en dit is ook belangrik om beleggers te lok.

“In die komende jaar sal ons voortgaan om te konsentreer op hoëwaarde-landbouprodukte met uitvoerpotensiaal, soos ons vrugte-, wyn- en groentebedryf, asook hoender- en rooivleis.”

Stimuluspakket

Ramaphosa het verlede jaar ná die nasionale uitvoerende komitee van die ANC se tweedaagse lekgotla in Tshwane ’n stimuluspakket vir die ekonomie aangekondig. Die stimuluspakket is toegespits op onder meer werkskepping en die instel van beskermingsmaatreëls om plaaslike bedrywe, soos die suiker- en die hoenderbedryf wat ernstig deur goedkoop invoer benadeel word, te ondersteun.

Hy het in sy staatsrede gesê as deel van dié pakket vir landbou, is in omvattende ontwikkelingsondersteuning vir boere belê om te verseker dat kommunale grond en restitusiegrond produktief aangewend word.

Hy het voorts beloof dat die Regering sal voortgaan om voorrang te gee aan vaardigheids- en kapasiteitsontwikkeling vir kleinboere en opkomende boere.


Die droogte

Hoewel Ramaphosa nie die droogtekrisis en die erge druk wat dit vir die landbousektor veroorsaak regstreeks aangeroer het nie, het hy wel verwys na die waterkrisisse wat oor groot dele van die land beleef word.

Hy het gesê ’n omvattende, geïntegreerde, nasionale plan word ontwikkel om watertekorte, verouderde infrastruktuur en die swak deurvoer van projekte aan te pak.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.