Die regering se poging om die onteiening van grond vir grondhervormingsdoeleindes met ’n nul waarde as vergoeding duidelik in die Grondwet te skryf, het nou al gevorder tot by die stadium van openbare verhore wat binnekort sal begin. Kommentare op die wysiging van artikel 25 van die Grondwet kan steeds tot einde Februarie ingedien word.

Steenhuisen het in die teenwoordigheid van pres. Cyril Ramaphosa in die nasionale vergadering gesê die waarheid is dat onteiening sonder vergoeding nooit was oor geregtigheid oor grond nie. Hy het die voorbeeld genoem van mnr. David Rakgase, 70-jarige LRAD-boer van Limpopo, wat steeds sukkel om die staatsgrond te koop waarop hy al 29 jaar boer. Dit terwyl die Noord-Gautengse hooggeregshof reeds op 4 September 2019 uitspraak gelewer het dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling die grond aan hom moet verkoop.

“Dit is hoeveel jy omgee om die grond aan die mense terug te gee. Dit is hoeveel jy omgee om swart boere te bemagtig.”

Hy het benadruk dat onteiening sonder vergoeding nooit was om titelaktes te gee aan diegene wat grond wil hê om te boer nie. “Dit was altyd ’n manier vir die ANC-regering om die grond te beheer en daarby die beskerming wat daarmee kom.” Volgens Steenhuisen moes die onteieningskwessie, die sukkelende Eskom en die nasionale gesondheidsversekering sentraal gestaan het in Ramaphosa se staatsrede as hy die land se ekonomiese bloeding wil stop en vertroue herstel.

Mnr. Julius Malema, leier van die EFF, het op sy beurt Ramaphosa en die ANC aangevat vir ’n skynbare stadige pas om onteiening sonder vergoeding te laat verwerklik. “Van die begin af het ons jou nie vertrou nie. Ons het goed geweet jy gebruik die kwessie om te probeer stemme wen.”

Hy het ’n beroep gedoen dat Ramaphosa en die regerende party beslissend moet wees.

Verslegtende ekonomie

Wat werkskepping en ekonomiese herstel betref, het verskeie opposisiepartye die dringendheid van die kwessies onderstreep.

Malema het aan Ramaphosa gesê dat hy nie enige werk geskep het nie. Sedert hy president geword het, het werkloosheid gestyg. “Pleks daarvan om ’n president te wees wat werk skep, is jy ’n president wat werkloosheid geskep het.”

Mnr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het die ekonomiese groei in die twee jaar van Ramaphosa se presidentskap met die vorige twee jaar vergelyk. “Voor jy die president geword het was die ekonomiese groeikoers 1,4%. Onder jou leierskap, agbare president, het dit in die eerste jaar gedaal tot 0,8% en die Reserwebank voorspel verlede jaar se ekonomiese groei sal 0,4% wees.”

Hy het gesê dit is die werklikheid van die land se ekonomie ten spyte van die werkskongresse en beleggingskonferensies wat aangebied word.

“As gekyk word na die werkloosheidsyfer, dan wys dit voor jy president geword het, was dit 26,6%. Ná jou eerste jaar het dit toegeneem tot 27,1% en verlede jaar tot 29,1%.”

Hy het gevra dat ’n moratorium op swart ekonomiese bemagtiging en regstellende aksie geplaas word totdat die land ’n groeikoers van 5% het. Hy het bygelas dat onteiening sonder vergoeding stopgesit moet word, en Ramaphosa sal “nog ’n keer geskok word” deur te sien hoe gou die land ’n groeikoers van 5% bereik.

Prins Mangosuthu Buthelezi, emeritus-president van die IVP, het gesê daar is sowat 40 000 kommersiële boere in Suid-Afrika wat ’n bevolking van 55 miljoen voed. Hy het gesê dat daar wel oor grondhervorming en maatskaplike geregtigheid gepraat moet word, maar soos die land die ekonomiese krisis bestuur, moet voedselsekerheid as ’n dringende kwessie gesien word.

“As ons nie landelike gemeenskappe bemagtig om kos vir hulleself en die mark te produseer nie, staar ons mense hongersnood in die gesig.”