Die organisasie het ook sy kommer uitgespreek oor Ramaphosa se ekonomiese vooruitsigte vir die land en sy teiken vir werkskepping.

Meintjes sê TLU SA se droom vir Suid-Afrika is dieselfde as Ramaphosa s’n: Dat die land tot ’n ekonomiese reus ontwikkel wat gebou word op vryemarkbeginsels en nie beïnvloed word deur historiese en ideologiese vooroordeel nie. “Ramaphosa se aanvanklike verwysing na wetgewing uit 1913 plaas die klem op die verlede pleks van die toekoms. Dit kan bots met ’n vooruitsig vir die toekoms. As alle inwoners gerespekteer moet word, moet dit Afrikaners insluit.” 

Werksgeleenthede

Hy sê die organisasie glo nie Ramaphosa se vooruitsig vir die skep van 2 miljoen werksgeleenthede vir jong mense oor die volgende dekade is realisties nie. “Sy voorgangers kon nie eens daarin slaag om ’n miljoen werksgeleenthede te skep nie. Om sy teiken te bereik, sal hy van rasgebaseerde ekonomiese bemagtiging moet wegbeweeg en onregverdige arbeidswetgewing moet aanpas.”

Meintjes sê hoewel Ramaphosa se staatsrede nie regtig iets nuut gebied het nie, bied dit meer geesdrif. “Woorde moet egter met dade gepaardgaan en tot nou het die ANC-regering meer gepraat as gedoen. Die huidige regering moet wys hoe hy anders as voriges gaan wees.”

Hy sê die organisasie kan Ramaphosa se vooruitsig vir ’n tegnologiegebaseerde ekonomie steun, maar dan moet hy homself en die regering onvoorwaardelik van enige vorm van sosialisme distansieer. “Ons wag nog daarvoor.” 

Regte tyd

Ramaphosa se versoek aan Suid-Afrikaners om produkte te koop wat plaaslik vervaardig is, kon volgens Meintjes nie op ’n beter tyd gekom het nie. “Ons is werklik opgewonde oor die vooruitsig van Suid-Afrikaners wat Trots Suid-Afrikaans-produkte ondersteun,” sê Meintjies. “Veral Suid-Afrikaanse landbouprodukte behoort ondersteuning te kry. Verbruikers moet produkte vermy wat uit ander lande hier gestort word. As ons plaaslike landbouprodukte koop, sal dit outomaties tot werkskepping lei en kommersiële boere help om te oorleef ten spyte van groot klimaatskwessies.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.