Pres. Cyril Ramaphosa het hierdie boodskap aan tradisionele leiers oorgedra toe hy hulle toegespreek het by die opening van die nasionale huis van tradisionele leiers. Die grondkwessie kry elke jaar tydens dié opening baie aandag.

Hy het die tradisionele leiers daarop gewys dat hulle aan die voorpunt gestaan het om bydraes te lewer rakende die voorgestelde wysiging van artikel 25 van die Grondwet ten opsigte van nul vergoeding by die onteiening van grond vir grondhervormingsdoeleindes. In Januarie het die nasionale huis die wysigingswetgewing na al die huise van tradisionele leiers verwys. Kommentaar op die wysiging kan tot 29 Februarie 2020 gelewer word.

“Julle deelname is van kritieke belang.”

Grondberaad

Ramaphosa het aangekondig dat daar vanjaar ’n presidensiële beraad oor grond gehou sal word. “Die huis is besig met samesprekings oor hierdie kwessie met die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

“Dit is belangrik dat elke provinsiale wetgewer, ondersteun deur die relevante provinsiale regering, hul eie samesprekings hou om die proses te bespreek wat na die beraad sal lei.”

Hy het gesê dat gekyk word hoe ander Afrikalande grondbesit en die rekordhouding van grondregte bestuur.

Me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het onlangs die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling genooi om saam ’n studietoer te onderneem na Botswana, Tanzanië en Uganda om na hul modelle van grondadministrasie en grondbesit te kyk.

Ekonomie

Ramaphosa het gesê dat ’n ekonomie wat nie groei nie en waar werksverliese voorkom, ’n ernstige impak op landelike gebiede het.

Soos in sy staatsrede het hy aan die tradisionele leiers voorgehou dat daar vanjaar op inklusiewe groei en die bou van ’n bevoegde staat gekonsentreer sal word.

“Ons moet inklusiewe groei en ontwikkeling na die mense neem, na daar waar hulle bly, waar hulle werk, waar hulle godsdiens hou en waar hulle studeer.”

Hy het ook aangedui dat die staat gaan wegbeweeg van die bestaande stelsel om dienslewering van die bo- na die onderkant van die diensleweringstruktuur te lewer, want dit lei tot vermorsing, duplisering en wanbestuur.