As die Regering nie die droogtegeteisterde gebiede tot rampgebiede verklaar nie, kan boere boonop nie op droogtehulp uit die nasionale rampfonds aanspraak maak nie en dan sal die platteland verder ontvolk. 

Altesaam 34 distrikte in die Karoo en Suid-Kaap word bygestaan met die verskaffing en vervoer van voer uit die saaigebiede in die noordelike dele van die land deur drie organisasies wat onlangs nou begin saamwerk het, naamlik Gift of the Givers, Boere in Nood en Save the Sheep Sutherland.

Gift of the Givers het met die samewerking van mnr. Tommie Klopper en me. Carina Swartz van Boere in Nood en mee. Hester Obermeyer en Sybil Visagie van Save the Sheep Sutherland ’n hulpverleningsplan saamgestel om boere van ondergang en hul diere van ’n gewisse dood te help red.

“Die enigste manier om sinvol hulp te verskaf, is om ’n span te vorm wat voerskenkings en goedkoop ruvoer kan bekom, gratis vervoer kan verskaf en een keer per maand by elke dorp kan aandoen met voer,” s? Obermeyer, mediabeampte van die Sutherland-droogtefonds en ’n boervrou van die distrik. Sy koördineer die proses om voer te bekom en te versprei.

Volgens Obermeyer word dit egter al hoe moeiliker om voer en geld vir die vervoer daarvan te bekom. Voorraad uit die noordelike saaigebiede droog op. Dieselpryse het skerp gestyg en aanplantings neem af, dus lyk die toekoms vir die beskikbaarheid van voer nie goed nie, veral as ’n El Niño-weerverskynsel moontlik in aantog is, sê Obermeyer.

Staat en publiek besef nie die erns

Daarby, beweer sy, is dit asof nóg die publiek nóg die Regering die erns van die saak besef. Die ekonomie van talle dorpe wat hoofsaaklik op die landbou staatmaak, stort in duie met gevolglike werksverliese onder plaaswerkers sowel as dorpenaars. Alle besighede in die droogtegeteisterde gebiede word nadelig getref.

“In feitlik al die betrokke distrikte het kuddes met meer as 50% verminder, met dieselfde persentasie verlies aan inkomste. Boere is eenvoudig nie meer in staat om hul verpligtinge na te kom nie, verbandlenings op plase kan nie meer betaal word, skoolgeld, winkel- en koöperasierekeninge is agterstallig. Die boere is op hul knieë gedwing en ’n dringende reddingspoging is nodig om hulle op hul plase te kan hou.”

Terselfdertyd word die natuurlike hulpbronne – veld en grondwater – waarop die ekonomie berus, uitgeput. Nagenoeg 40% van die natuurlike weiding het reeds gevrek, veral in die Noord-Kaap, sê Obermeyer.

Terwyl skenkings van voer in die vorm van hooi-, soja- en ander bale, asook mielies tot dusver gehelp het, sal dit nie die uiteindelike ramp kan keer nie. Boere sal bystand moet ontvang uit die nasionale rampfonds, maar dit blyk ook problematies te wees.

Benewens die dringende behoefte aan kos en geld behoort die hoofdoel van enige reddingspoging te wees om voedselsekerheid in stand te hou en hulpbronne vir die nageslag te beskerm.

As gevolg van die stygings in die dieselprys kan boere in die noordelike dele van die land nie meer verniet baal nie. Die koste per ronde baal is nou minstens R80. ’n Vrag van 50 bale kos dus minstens R4 000, plus die gemiddelde vervoerkoste van R27 500.

“Omdat die droogte reeds sedert 2013 met ons is, het boere nie meer die kontantreserwes om die vervoer te betaal nie. Die mielieprys het die afgelope twee weke met R550/ton gestyg. As boere in die noordelike dele nie plant nie en die droogte duur voort, stuur ons op ’n enorme krisis af,” s? sy.

Angswekkende som

Om vir ’n distrik met slegs 100 boere en 170 000 stuks vee volhoubaar voer te verskaf teen 800 g mielies per skaap per dag is 138 400 ton mielies per maand nodig. Teen 33 ton mielies per vrag en vervoerkoste van R27 500 per vrag is dit ’n angswekkende som. Die koste van ruvoer, arbeid en brandstof is dan nog nie in berekening gebring nie.

Die 34 dorpe wat op die lys vir dringende noodleniging is, sterk van Steytlerville in die Oos-Kaap tot Heidelberg in die Wes-Kaap en Loeriesfontein in die Noord-Kaap.

Volgens dr. Gideon Groenewald, ’n paleontoloog en hidroloog wat die droogtes in die Karoo 11 jaar lank bestudeer het, is die gebied in ’n siklus wat elke 220 jaar voorkom met ’n droogte wat sewe jaar duur. Dit beteken daar kan nog 3½ jaar van abnormaal lae reënval voorlê.

“Ons benodig baie, baie dringend voer en kontant om die projek aan die gang te hou,” sê Obermeyer.