Die regering doen egter ’n beroep op werkgewers van veral plaaswerkers en huishulpe om nie te skroom om aansoek te doen vir uitbetalings van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) nie.

Mnr. Thulas Nxesi, minister van indiensneming en arbeid, het gesê dit sal ’n klap in die gesig van die regering wees as die werkgewers van plaaswerkers en huiswerkers nie die geleentheid aangryp om gedurende die inperkingstyd aansoek te doen om uitbetalings van die WVF om hierdie kwesbare werkers te help nie.

Daar bestaan sedert 26 Maart maatreëls wat probeer om die druk op werkgewers en werknemers te verlig. ’n Maatskappy, Interfile, is aangestel om te help om huishulpe en plaaswerkers op te spoor sodat hulle uitbetalings van die rampfonds kan kry.

“Die departement werk deur sy databasis sodat hy kan uitreik na plaaswerkers. Ek het die departement opdrag gegee om alles moontlik te doen om hierdie mense op te spoor.” Teen Saterdag 16 Mei het meer as 14 000 huishulpe reeds voordeel getrek uit die rampfonds. Meer as R55 miljoen is uitbetaal en 10 092 werkgewers het aansoek vir hul huiswerkers gedoen.

Nxesi het gesê meer as R2 miljard is nog beskikbaar in die WVF wat tot 535 587 werkers kan help. Aansoeke van 74 401 werkgewers word afgewag.

Aansoeke van boere

Mnr. Makhosonke Buthelezi, direkteur vir kommunikasie en bemarking by die departement van indiensneming en arbeid, het gesê slegs werkgewers mag namens hul werkers vir die Covid-19-Ters-hulp aansoek doen.

Landbouweekblad wou weet of die kleinboere wat nie die nodige finansiële dokumente gehad het om in aanmerking te kom vir die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se ramphulp nie, ook gehelp kan word. Dit het aan die lig gekom dat ’n skokkende 72% van die boere wat vir hulp by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling aansoek gedoen het, nie daarvoor in aanmerking gekom het nie.

Buthelezi het goeie nuus vir hierdie boere gehad. Hy het gesê dat die fundamentele vereiste vir die Ters-hulp slegs is dat die werkgewer by die WVF geregistreer moet wees om daarvoor oorweeg te word. Dus kan kleinboere wat by die WVF geregistreer is, aansoek doen vir die departement van indiensneming en arbeid se Covid-19-ramphulp.

Me. Jahni de Villiers, hoof van arbeid en ontwikkeling by Agri SA, het bevestig dat talle boere ingevolge Ters hulp gekry het. “Die enigste vereiste is dat die werknemers bydraers van die WFV moet wees en dat die werkgewer sy bedrywighede totaal of gedeeltelik sou moes opskort weens die voorkoms van Covid-19.”

Sy het self ’n paar boere reg oor die land gehelp wat aansoek gedoen het. Navrae het meestal uit die Oos-Kaap en Gauteng van veeboere en gemengde boerderye gekom.

Geld te min

Intussen het me. Thandeka Mbabama, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, ’n beroep op me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gedoen om die aansoekproses vir hulp van die departement weer oop te stel aangesien 72% van die aansoekers nie daarvoor in aanmerking kon kom nie. Slegs 15 371 van die 54 770 aansoeke van klein- en bestaansboere het voldoen aan die kriteria om van die ramphulpfinansiering van R775 miljoen te kry.

Mnr. Mdu Shabane, direkteur-generaal van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het gesê dat die departement besluit het om die boere eerder só te help as om kospakkies uit te deel. Hy het bygevoeg dat die geld te min is om al 54 770 aansoeke goed te keur.