Prof. Andries Jordaan, direkteur van die Afrika-sentrum vir rampbestuur en -opleiding aan die Universiteit van die Vrystaat, sê die grootste voordeel is dat daar beter koördinering op nasionale vlak kan wees, met nasionale departemente wat bydraes kan lewer.

“Dit beteken daar is meer mense wat aan oplossings dink en met planne vorendag kan kom.”

Jordaan sê geld kan ook makliker op nasionale vlak rondgeskuif word. Só sal meer geld hopelik vir ramphulp aan provinsies toegewys kan word.

Dit was volgens hom ’n groot fout dat die Regering die droogte van 2015-’16, toe agt van die nege provinsies in ’n stadium rampdroogtes verklaar het, nie as nasionale ramp verklaar het nie en daar verwag is dat provinsies die droogte self moes takel.

Sekere magte lê op nasionale vlak, soos grootmaatwatervoorsiening.

Die feit dat die Regering die droogte as nasionale ramp afgekondig het, het ook groot simboliese en sielkundige waarde, sê Jordaan.

“Dit dra baie daartoe by dat almal in Suid-Afrika bewus word van die droogte en hoe belangrik water is.”

Jordaan het onlangs ’n Wes-Kaapse sowel as ’n nasionale vergadering bygewoon waar belanghebbendes oor die droogte gesels het. Hy is beïndruk met die gehalte van koördinering, hoewel ’n mens nog sal moet sien of die inwerkingstelling van planne ewe goed is.