Luidens die verklaring van mnr. Mmaphaka Tau, departementshoof van die nasionale rampbestuursentrum, word die droogte in dele van die Oos-, Noord- en Wes-Kaap en sekere gebiede in ander provinsies tot ’n ramp verklaar.

Dit volg op vergaderings met nasionale en provinsiale departemente en sektore waartydens die omvang van die droogte ontleed en aanbevelings bestudeer is.

Mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, het Agri SA bedank vir die voortdurende druk wat hy op die regering toepas. Hoewel die rampverklaring goeie nuus is, is hy meer bekommerd oor langtermyn-voedselsekerheid.

“Boere in die Langkloof en Gamtoosvallei is op hul knieë. Die dreigende staking van produksie hou ’n gevaar vir voedselsekerheid in.”

MEER DAMME NODIG

Stern sê pleks van droogtehulp nou en dan, moet die regering eerder langtermynoplossings bedink en meer damme bou in ’n land waar droogtes ál meer voorkom. “Dit sal voedselsekerheid verbeter, die ekonomie stimuleer en werkgeleenthede bied.

Daar is te min damme vir volhoubare landbouproduksie te midde van klimaatstoestande.” Volgens Stern is hulle skepties oor die verspreiding van droogtehulp.

“Uit eie ervaring word die hulp nie regverdig onder boere versprei nie. Die provinsiale departement systap en ignoreer ons versoeke en besef nie dat ’n gesonde landbousektor voedselsekerheid sal meebring nie. Benewens dat boere misken word, hang die wolk van onteiening sonder vergoeding ook oor hul kop.

“Die onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng behoort lesse vir die regering in te hou. Dit was wonderlik dat mense van alle rasse saamgestaan het om hul misnoeë oor die wetteloosheid te kenne te gee. Die bedreiging van voedseltekorte het ook onder gewone mense se aandag gekom.”

Mnr. Nicol Jansen, voorsitter van Agri Noord-Kaap, sê hulle is dankbaar oor die droogterampverklaring. “Dit is egter ’n lang en moeisame proses om aansoek te doen, wat amptenare hopelik spoedig sal verwerk. Voorheen het dit maande geduur.

“Die staat moet nie middelmanne vir verspreiding gebruik nie. Daar is etlike handelshuise in verskeie streke met beskikbare veevoervoorraad. Die voer kan met koepons aan ontwikkelende en kommersiële boere beskikbaar gemaak word.

Die geld moet op grondvlak aan hulp bestee word, en nie aan administrasie nie.”

DINK HOLISTIES

Volgens mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, ervaar sekere dele van die Wes-Kaap vir die sewende jaar agtereenvolgens droogtetoestande.

“Boere in die Matzikama-distrik en die Sentraal- en Klein-Karoo het vanjaar nog geen noemenswaardige reën gekry nie. Die soort hulp wat gelewer gaan word, is nog onduidelik, maar droogtehulp, soos veevoer en saad vir weiding, word verwelkom.

“In sekere gebiede moet ’n holistiese benadering tot watersekerheid gevolg word. Die Wes-Kaapse departement van landbou het in April vanjaar sowat 1 115 boere in uiters droogtegeteisterde gebiede met voerskenkings van R12,2 miljoen ondersteun. Geld vanaf nasionale vlak sal die provinsiale veldtog ondersteun en bevorder.”