Die maatskappy het 'n A minus-gradering in 2017 se koolfstofbekendmakingsprojek (CDP) behaal, wat hom ook in die top 18% van Suid-Afrikaanse maatskappye in die sektor vir verbruikerstapelvoedsel plaas.

RCL sê in 'n verklaring een van die groot prestasies in die vermindering van sy koolstofvrystellings is die bou van sy Waste-to-Value-aanleg in Worcester, waar hernubare energie uit afvalwater van die groep se hoenderverwerkingsaanleg opgewek word.

Die aanleg is die grootste in sy soort in Afrika.

In drie maande is meer as 926 673 kWh se hernubare energie daar opgewek, wat 35% van die totale krag is wat die Worcester-terrein nodig het.

In 'n ander projek wek 271 sonpanele by die maatskappy se nasionale kantoor 200 000 kWh per jaar op, genoeg vir al die ligte in die gebou.

Water
Mnr. Ettienne Thiebaut, hoof van volhoubaarheid, sê waterbesparing is ook vir die maatskappy 'n voorrangsaak. 

“Ons ontwikkel nog ons water-padkaart, maar die droogte was 'n bykomende katalisator in ons heroorweging van watergebruik in ons suikersake-eenheid.

“Die waterdoeltreffender besproeiingstegnieke wat ons in dele van ons suikerrietkweekbedrywighede begin gebruik het, het reeds waterbesparings begin oplewer, en ons sal voortgaan om 'n meer droogteweerstandige onderneming te skep,” sê Thiebaut.

CDP is in 2000 begin en verlede jaar het sowat 3 000 maatskappye ter wêreld inligting oor klimaatsverandering, water en ontbossing bekend gemaak. 

Na verwagting sal die druk op Suid-Afrikaanse maatskappye toeneem om hul vrystellings op 'n globale platform te bestuur, monitor en bekend te maak, sê RCL.