Danksy afskalings in sy hoendersake kon RCL blootstelling aan goedkoop, ingevoerde hoendervleis verminder, maar probleme in die suikerbedryf, die listeriose-skandaal en bewegings in die mielieprys het ’n wesenlike invloed op die maatskappy gehad.

Goedkoop ingevoerde suiker het die prestasie van sy suiker- afdeling versuur omdat die plaaslike prys met meer as 20% gedaal het en meer suiker teen laer wêreldpryse uitgevoer moes word. Mnr. Rob Field, finansiële hoof van RCL, sê die krisis in die suikerbedryf is groot en die maatskappy oorweeg om sy suikersakemodel te verander ter wille van groter volhoubaarheid.

Op lang termyn oorweeg die maatskappy om te diversifiseer ten opsigte van die produkte wat uit suikerriet gemaak word. Dit word wêreldwyd gedoen, maar vereis kapitaalbelegging. Alternatiewe gebruike sluit die opwek van krag en die vervaardiging van alkohol en plastiek in.

“Die Brasiliaanse bedryf se aanlegte is só gestruktureer dat hulle binne ’n week kan besluit of hulle etanol of suiker gaan lewer. Hulle het dus twee aansienlike groot markte wat hulle teen mekaar kan afspeel. Die sukrosemolekule is baie veelsydig en aanpasbaar,” sê Field.

nuwe HOENDERplan

RCL Foods het twee jaar gelede besluit om sy hoendersake só te verander dat hy uit die mark vir sogenoemde kommoditeitshoender beweeg. Dit is kitsbevrore hoenderstukke wat baie blootgestel is aan mededinging van goedkoop, ingevoerde hoendervleis.

Die maatskappy se weeklikse produksie is van 4,8 miljoen tot 3,4 miljoen hoenders verminder. Hy pluk nou die vrugte daarvan. Dit is omdat die herstel in sy hoenderafdeling se finansies daartoe bygedra het dat die maatskappy se verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en afskrywings (ebitda) in die jaar tot 30 Junie met 17,1% tot R2,046 miljard en sy wesensverdienste met 52,7% gestyg het.

“Ons het steeds ’n verpligting, belangstelling en gretigheid om gekontrakteerde produkte aan kitsdiensrestaurante te verskaf, asook ons waardetoegevoegde handelsmerkprodukte aan die kleinhandel.”

Field sê toe die maatskappy twee jaar gelede sy nuwe hoendersakemodel opgestel het, het hy in ag geneem dat die aard van die bedryf baie siklies is, met groot blootstelling aan beduidende prysbewegings van produksiemiddele. Só begin voerkoste nou styg ná 18 maande se lae insetkoste danksy die einde van die droogte.

LISTERIOSE

Die afgelope boekjaar was moeilik weens voëlgriep en die listeriose-krisis. Eersgenoemde het RCL R50 miljoen gekos weens ’n uitbreking van voëlgriep op ’n teelplaas en het ook hoër biosekerheidskoste meegebring. Die listeriose-krisis het RCL na raming R158,2 miljoen gekos.

Hy moes sy Wolwehoek-aanleg tydelik sluit, maar die Regering het later bevestig dat die ST6-stam van listeriose nie daar gevind is nie. Field sê die krisis was ’n groot leerproses vir almal, met die gunstige uitkoms dat dit gespreksgeleenthede met die Regering geskep is. Met die uitbreking, en selfs nou, was en is daar geen regulasies nie.

Hy sê RCL voldoen aan ’n internasionale standaard, maar die Regering oorweeg om ’n nulvlak van listeriose-teenwoordigheid daar te stel, wat selfs strenger as die betrokke internasionale standaard is. Field sê indien die Regering dit doen, hoop hy dat nakoming afgedwing sal word sodat almal, ook die kleiner vervaardigers, daaraan sal voldoen.

BREI uit na melk

Field sê een kategorie waarin die maatskappy onderverteenwoordig is, is die melkbedryf. RCL oorweeg om die kapasiteit wat beskikbaar geword het met die afskaling van sy hoenderbedrywighede, te gebruik om meer in dié mark in te beweeg.

RCL is besig om ’n aandeel van 45% in ’n klein Zambiese maatskappy te verkry wat vinnig bewegende verbruikersgoedere versprei. Sy logistieke afdeling Vector bedryf ’n geslaagde gesament- like onderneming in Botswana en RCL wil dié model na ander lande uitbrei.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.