Só sê mnr. Willie Haarhoff van die plaas Biesiepan in die distrik Dealesville nadat hy sedert begin April reeds 271 mm reën aangeteken het. Meer as 200 mm reën het sedert die begin van die Paasnaweek op die plaas uitgesak.

“Ons het nog nooit soveel reën in een maand gehad nie, maar ons het ook nog nooit sulke droë toestande vir so lank gehad nie.” Haarhoff sê hulle gaan sedert 2012 gebuk onder ernstige droogtetoestande. Die plaas se gemiddelde jaarlikse reënval is 480 mm. In 2012 het hulle slegs 180 mm vir die jaar gehad, en sedertdien het hulle jaarliks nie veel meer as 210 mm per jaar gemeet nie.

Die eerste reën vir die 2018-’19-seisoen het op 30 Januarie op die plaas uitgesak, en tans staan hul meting vir die jaar op 486 mm. “Die ganse swem in die landerye rond, en tot die koeie baljaar en swem vandag in die water,” vertel Haarhoff, wat onder meer ’n melkery bedryf. 

plaasdam, reën,
'n Dam op die plaas Biesiepan in die distrik Dealesville loop vol water. Foto: Willie Haarhoff

In 37 jaar

Op sy beurt sê mnr. Jakkals le Roux, boer van die distrik Wesselsbron en voorsitter van Vrystaat Landbou se veiligheidskomitee, dat hy in sy 37 jaar as boer “nog nooit so baie water sien vloei het nie”. Hy het die Paasnaweek 168 mm reën gehad en staan vir April op ’n totaal van 250 mm.

Le Roux sê talle riviere in die provinsie is in vloed, onder meer die Vals-, Vet- en Sandrivier, “en die Erfenisdam is vol!”

Hy sê hoewel die swaar reën skade veroorsaak, gee dit hulle ook moed. “Ons is nou reg om die volgende paar seisoene te kan plant op watertafellande! Jy sê nooit nee vir water nie. Die skade wat dit aanrig, kan nog reggemaak word, maar dit is nie maklik om ’n droogte te oorkom nie.” 

reën,
Swaar reën het talle paaie op mnr. Jakkals le Roux se plaas in die distrik Wesselsbron onbegaanbaar gemaak. Foto: Jakkals le Roux

Laaispruit by Marquard

Mnr. Hannes de Bruyn, veiligheidskoördineerder vir die distrik Marquard, sê boere wat langs veral die Laaispruit tussen dié dorp en Winburg boer, is gemaan om hulle vee na veilige kampe te verskuif en waterpompe uit die spruit te lig nadat die dorp se dam eergister oor sy wal begin loop het.

Die boonste deel van dié damwal is ’n laag grond wat bo-op die wal, wat met klip gebou is, vasgestamp is. Die water wat oor die wal spoel, het dié laag grond van sowat 1 m diep uitgekalwe. Gister was die gat waar die grond uitgekalwe is sowat 15 m breed. “Nóg reën het gedurende Woensdagnag geval, op plekke tot meer as 40 mm. Ons verwag dat nog water in die dam gaan inloop, en dus sal water oor die wal bly spoel.”

De Bruyn sê hulle verwag dat die damwal sal hou, maar hulle het boere wat langs die spruit boer, gewaarsku om voorsorg te tref om hul vee en infrastruktuur veilig te hou. 

Marquarddam, reën,
Die dam op Marquard se wal waarvan die boonste grondlaag uitgekalwe is. Foto verskaf deur Hannes de Bruyn
Marquarddam, reën,
Die sluise van die dam op Marquard is oopgemaak na swaar reën in die distrik. Foto verskaf deur Hannes de Bruyn
Marquarddam,
Die Laaispruit by Marquard is in vloed. Foto verskaf deur Hannes de Bruyn


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.