Mnr. Friedl von Maltitz, woordvoerder van die burgerlike gemeenskapsforum Sechaba sa Ficksburg, sê goeie buie reën het deur die nag en vroegoggend op dié Oos-Vrystaatse dorp uitgesak, maar die nat toestande het nie die voorneme van die forum, om Ficksburg se toegangsroetes te versper, gedemp nie.

“Voertuie van die dorp se taxivereniging, Fita, en trekkers van boere van alle rasse het vir die protesaksie opgedaag,” sê hy. “Die optrede verloop vreedsaam onder die wakende oog van die polisie en daar heers ’n gees van samewerking tussen die lede van die gemeenskap.”

’n Feestelike atmosfeer heers met braaivleisvure wat vir ’n laat ontbyt by die versperringspunte aangesteek is. “Die reënweer verhinder ons nie om te braai nie,” sê Von Maltitz oor wat hy ’n “ware Suid-Afrikaanse protesaksie” noem. “Boere, taxibestuurders en dorpenaars drom saam om die braaivleisvure.”

Slegs noodvoertuie word deurgelaat. Alle pendelaars op pad na en van Ficksburg moet vandag met Jan Tuisbly se karretjie ry. Selfs skoliere uit die distrik wat skool toe pendel, moet die dag tuis deurbring.

Die beleg sal volgens hom tot omstreeks 17:00 voortduur om ’n duidelike boodskap aan me. Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, en mnr. Sam Mashinini, die LUR vir paaie, polisie en vervoer, oor te dra.

Die besluit om alle toegangspaaie, asook die hoofroete deur die Oos-Vrystaat, die R26, te versper volg nadat die gemeenskap se vertoë aan die provinsiale regering oor die haglike toestand van paaie op dowe ore geval het. Een van die redes is Ntombela se stilswye oor die forum se skriftelike versoek om die toestand van die gebied se paaie op ’n vergadering te bespreek.

’n Beswaarskrif met meer as 2 000 handtekeninge van inwoners van Lindley, Petrus Steyn en Arlington is vroeër aan Mashinini se kantoor gestuur om die dringende herstel van die R707 te versoek.

Von Maltitz sê lede van die Ficksburg- en Imperani-landbouvereniging,  Fita, Afasa, OVK, Setsoto-jeugontwikkeling en huurders van Ficksburgse meentgrond neem aan die protes deel.

Die gemeenskap van Ficksburg is keelvol vir die swak toestand van hul paaie. Foto: Friedl von Maltitz
Onder meer boere en taxi operateurs gee hul misnoeë te kenne met die toestande van Ficksburg se paaie. Foto: Friedl von Maltitz
Nog niemand wat die paaie rondom Ficksburg gebruik het vanoggend was vies omdat die paaie versper word nie, sê mnr. Friedl von Maltitz, woordvoerder van die burgerlike gemeenskapsforum Sechaba sa Ficksburg. Foto: Friedl von Maltitz
Onder meer boere en taxi operateurs gee hul misnoeë te kenne met die toestande van Ficksburg se paaie. Foto: Friedl von Maltitz
Ficksburg paaie
So lyk dit as 'n hele gemeenskap saamkom om hul misnoeë met die swak toestande van paaie in die distrik Ficksburg te kenne te gee. Foto: Friedl von Maltitz

Die gebied se inwoners is onthuts oor die toestand van die paaie wat ’n verreikende uitwerking op die gemeenskap het. “Taxibestuurders se inkomste is onder meer in die gedrang omdat sekere roetes onbegaanbaar is.”

Die versoekskrif aan Mashinini verwys na die vele beloftes deur verskeie ampsdraers insake die herstel en opknapping van paaie in die distrik wat nie gerealiseer het nie.

Die forum het ook voorgestel dat die forum alle geld administreer wat vir die herstel van die paaie bewillig word.