Van den Berg het verlede Desember al gesê dié seisoen kan ooreenstem met dié van 1987-’88 toe swaar reën en oorstromings oor groot dele van die land voorgekom het.

“Hoewel dit moeilik is om vloede te voorspel vanweë die aard van die voorkoms van afsnylaagdrukstelsels – dit is intense laagdrukstelsels wat vinnig kan ontwikkel – is  daar ’n groot kans op swaar reën op byna enige plek van die somerreëngebied,” sê Van den Berg. “Die Australiese voorspellingstelsel wat gebruik maak van fases van die Suidelike Ossilasie-indeks (SOI), wat ’n aanduiding is van die stand van die Niño-gebiede en koppeling met die klimaatstelsels, was die afgelope maand in ’n vinnig stygende fase wat in die verlede gunstig was vir goeie neerslae oor veral die sentrale tot westelike dele voor die winter.”

Sterk ooreenkomste

Van den Berg wys op die volgende sterk ooreenkomste met die 1987-’88-seisoen:

•          Die Suidelike Ossilasie-indeks (SOI) was in Desember 1987 ook in die vinnig stygende fase nadat dit, soos tot net voor Desember 2019, baie lank naby neutraal gehuiwer het. Soos in 1988 was die SOI in 2020 in Januarie in dieselfde vinnig stygende fase nadat dit vanaf ongeveer Julie 2019 ook binne die neutrale reeks van see-oppervlaktemperature was.

•          ’n Lang, uiters droë tydperk het van ongeveer 1982 tot 1987 voorgekom, wat soortgelyk is aan die tydperk vanaf ongeveer 2012 tot 2019. Die einde van die droë siklus vanaf 1982 is gebreek deur die oorstromings van 1988 oor veral die sentrale binneland. Die swaarste reën het toe teen einde Februarie voorgekom, maar veral in Maart 1988.

“Die swaar reën en oorstromings wat plek-plek oor dele van Suidoos-Australië voorkom na die erge brande in dié land, is ook ’n moontlike voorteken van gebeure wat in Suid-Afrika verwag kan word,” sê Van den Berg. Weerstoestande in Australië stem baie ooreen met dié in die suidelike dele van Afrika omdat die twee wêrelddele op dieselfde breedtegraad lê. Luidens ’n berig op 9news word nog swaar neerslae in die komende dae oor Australië verwag.

Plaaslik het swaar neerslae, op plekke meer as 100 mm in ’n paar uur, sedert einde verlede week oor veral die oostelike dele van die land voorgekom, wat plek-plek oorstromings in veral beboude gebiede veroorsaak het. “In veral die sentrale tot westelike dele van Suid-Afrika lê die belangrikste deel van die reënseisoen nog voor gedurende die res van Februarie, maar veral in Maart. Daar is ’n sterk moontlikheid dat reënval weswaarts kan uitbrei oor die steeds baie droë Noord-Kaap en aangrensende dele van ander provinsies.” 

Produksietoestande

Dr. Werner Rossouw, handelaar en direkteur van Silostrat, sê die potensiaal van die gewasse op die lande is baie goed. “Ons het goeie reën gehad die afgelope tyd, en op die oomblik lyk dit goed oor die mielieproduksiestreke van die land. ’n Mens kan egter nog nie sê die oes is deur nie. Ons gaan teen einde Februarie en middel Maart weer goeie neerslae moet kry om die oespotensiaal te verwesenlik. As die reën voorkom, is die potensiaal daar dat ons 2017 se gemiddelde opbrengs van 6,4 ton/ha kan haal.” 

mielies
Uitstekende mielies! Hierdie reuse-mielieplante is die week by mnr. Hannes de Beer op die plaas, Broodsnydersplaas, in die distrik Middelburg, Mpumalanga afgeneem. Mnre. Arno van Staden en Wickus Fourie van Silostrat is elk 1,85m lank, en die mielies troon bo hulle uit. Foto: Werner Rossouw

Volgens Van den Berg is die meeste mielies in die somerreëngebied nou in ’n gevorderde vegetatiewe stadium en naby aan die reproduktiewe stadium. Dan is plante baie gevoelig vir droogteskade. “Hoewel nog reën oor sekere gedeeltes van die somergraangebiede moet voorkom om ’n baie goeie oes te verseker, is die huidige reën waarskynlik genoeg om te verseker dat ten minste ’n gemiddelde oes op die lande staan.”

Volgens Van den Berg is daar dele in die distrikte Bothaville en Wesselsbron in die Vrystaat, asook in Mpumalanga wat te veel reën begin kry, maar dié kolle is betreklik klein vergeleke met die algehele aanplantings.