Sommige boere in die Oos-Vrystaat beplan reeds hoe en waar hulle moontlik somergewasse moet oorplant, aangesien die eerste goeie reën in dié streek nog nie uitgesak het nie.

Die optimale planttyd in die oostelike dele van Suid-Afrika is van 15 Oktober tot 15 November. Van die boere wat al begin plant het, het halfpad opgehou, aangesien die grondwatervlakke nie reg is nie.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het aan die einde van verlede week wyd verspreide donderbuie in die noordelike en oostelike dele van die land voorspel.

Mnr. Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, sê die verwagte goeie neerslae het nie gerealiseer nie. “Die boere wag steeds op hete kole, met planttyd wat begin uitloop.” Volgens hom het donderstorms wél plek-plek voorgekom, met dele wat niks reën gekry het nie, en ander wat net ’n paar millimeter kon meet. 

Westelike dele ook onrustig

Minnaar sê boere in die sentrale en westelike somersaaigebiede raak ook onrustig, hoewel die optimale planttyd in dié dele van 15 November tot 15 Desember strek.

Intussen het die Suid-Afrikaanse Weerdiens die afgelope naweek op Twitter aangedui dat ’n stormagtige week van 14 tot 16 November vir dele van Suid-Afrika kan voorlê. ’n Sterk bolugtrog kan hierdie week nat, winderige en koue weer oor dele van Suid-Afrika veroorsaak, met sneeu wat op hooggeleë dele in die suide kan voorkom.