“Ons moed was in ons skoene, maar nou klim dit weer uit!” sê mnr. Ben Brynard, ’n boer van Calvinia, waar daar die afgelope week vir die eerste keer in jare noemenswaardige reënval was.

Die afgelope week het daar 56 mm reën op Brynard se plaas, Klawervlei, in die Roggeveld-gebied geval. Hy sê die winterreënstreek van die Roggeveld het van 40 mm tot 60 mm reën gehad. In die somerreënstreek het daar van 5 mm tot 15 mm reën geval.

Dit het vir die eerste keer in meer as 12 jaar by Calvinia gesneeu, wat gesorg het vir groot hoeveelhede water wat by die Hantamberge afkom.

Hy sê die reën is baie welkom aangesien daar geen reën in April en Mei, twee van hul belangrike produksiemaande, geval het nie. “Die reën het laat gekom. Die reënval gedurende Julie, Augustus en September sal bepalend wees van hoe die toekoms vir ons sal lyk. Daar loop tans geen water op my plaas nie, die grond het dit soos ’n droë spons opgesuig.”

Hy sê weidingsgewasse, hoofsaaklik hawer en gars, sal nou geplant word om te sorg dat daar in die somer kos vir die vee is. “Hoeveel weiding ons gaan hê, hang af van hoeveel opvolgreën ons kry. Ons hoop op goeie weiding sodat ons onder die voer kan uitkom.”

Wrede jaar

Hy sê hoewel die reën welkom is, is dit steeds ondergemiddelde reënval vir die gebied. “Teen hierdie stadium moes ek al 52% van my reënval gekry het, ek het nog net 27% gekry.”

Hy vertel ’n mens kan egter agterkom dat die mense in Calvinia se gemoedere danksy die reën nou heeltemal verander het. “Ek hoop niemand beleef weer ’n jaar soos 2019 nie. Dit was ’n wrede jaar. Ons vreugde is onuitspreeklik groot.”

Me. Sybil Visagie van Sutherland sê dié gebied het van 12 mm tot 40 mm reën gehad.

Me. Retha Hayes Compion vertel Pofadder in die Boesmanland was nie so gelukkig nie. Slegs 1 mm reën is op hul plaas aangeteken. “In die situasie waarin ons nou is, tel dit regtig nie as reën nie. Die meeste plase in ons gebied het die afgelope jaar of selfs langer nie reën gehad nie. Die meeste mense moet al sewe jaar hul vee voer.”

Sy sê dit is gewoonlik ’n goeie teken vir die Boesmanland as die Namakwaland goeie winterreëns kry. “Ons gryp op hierdie stadium na enige teken dat die reën sal kom. Die reënval en sneeu in die Wes-Kaap is vir ons ook ’n goeie teken.”

Wes-Kaap

Me. Jeanne Boshoff, kommunikasiebestuurder by Agri Wes-Kaap, sê hulle het goeie terugvoer by hul lede ontvang oor die afgelope paar dae se wydverspreide reënval. “Ons is veral dankbaar vir die reën in die Matzikama-distrik van die Weskus, wat sedert 2015 se ondergemiddelde winterreënval in ’n droogte vasgevang is en waar die toestande kritiek is.”

Die Voëlvleidam-kanaal tussen Gouda en Porterville
Die Voëlvleidam-kanaal tussen Gouda en Porterville. Foto: Nicolette du Toit
Die Voëlvleidam-kanaal tussen Gouda en Porterville
Die Voëlvleidam-kanaal tussen Gouda en Porterville. Foto: Nicolette du Toit

By Bitterfontein, een van die droogste gebiede in die Wes-Kaap, is 30 mm reën aangeteken, met 30 mm tot 36 mm by Kliprand en 25 mm tot 50 mm by Vanrhynsdorp. By Eendekuil is 50 mm aangeteken. Sy sê hierdie week se reën is goeie nuus vir graanboere wat die afgelope vyf jaar baie swak tot geen oeste gehad het nie weens ondergemiddelde reënval.

Boshoff sê Agri Wes-Kaap is baie bekommerd oor die Sentraal-Karoo waarvan dele wel somerreën gehad het, maar die situasie lyk glad nie goed met die winter op hande nie. “Die bietjie kos op die veld gaan nie genoeg wees vir die winter nie. Normaalweg is daar in April goeie reën wat goed is vir wintervoer, maar vanjaar was daar geen reën in April nie. Daar het wel die afgelope week reën geval, maar niks noemenswaardig nie.”